Local newsNewsNews

Komatipoort Voortrekkers herleef lydensweg simbolies

Die Komatipoort Voortrekkers het Vrydagaand 8 April aan 'n nagmars deelgeneem om die simboliek van die Christusweg waar te neem.

Die eerste skof het in die donker vanaf die Hervormde Kerk-terrein, die ontmoetingsplek van die kommando, na die pragtige tuin van Hannetjie van Gas gestap om daar aan Jesus se gebede in die tuin van Getsemane herinner te word.

Elke Voortrekkergroep het uit palmtakke kruisies gevleg voor hulle weer die nag na die Jackalberry Restaurant ingevaar het. By die restaurant, ná lesing van die toepaslike Skrifgedeelte, het die penkoppe, drawwerjies en verkenners na ‘n klankopname van “kruisig hom, kruisig hom!” en swepe wat in die nag klap, geluister.

Barend de Beer. Foto’s: Susan van Dyk

Daarna is daar na ‘n afgesonderde gebied in Bosbokstraat vertrek en doringkrone is uit bougainvilleas gevleg. Die krone is versigtig op elkeen se kop geplaas. Ná nog ‘n afstand deur die donker, moes elke kind vier duim lange spykers in harde hout inkap om aan die spykers deur die Gekruisigde se hande en voete herinner te word. Voordat elke span ‘n houtkruis na die kerkterrein gedra het, kon hulle hul dors lawe met asyn op sponsies.

LEES OOK: Hier is Mpumalanga se semifinaliste vir Kwêla se Dorp van die Jaar

Die Voortrekkers is onbeskaamd Christelik en leef die Christelike etos uit. Die kwartaal het hervat ná die middag se formele parade, en ná ‘n vakansie waar heelwat lede aan kampe deelgeneem het, insluitende die kompetisiekamp en ontdekkerskampe by Doornkloof in die Vrystaat.

Die Voortrekkers is besig, maar nooit te besig om stil te word of te waardeer waar hulle krag vandaan kom nie.

Dis nooit te laat om by die kommando aan te sluit nie. Belangstellendes kan Eiwet Nel by 072 788 4523 of Marita Engelbrecht by 082 575 2551 kontak.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.

For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder

For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

Back to top button