Local newsLocal sportNewsSport

Oom Roelf pak ultrafietsren vir die sewende keer aan

Roelf du Toit het op Sondag 10 Oktober vir die sewende keer aan die Cape Town Cycle Tour (CTCT), voorheen bekend as die Cape Argus, deelgeneem.

Sy seun, Eben du Toit, het ook deelgeneem en die hele familie was daar om die ryers te ondersteun. Dié 81-jarige het die 109 km binne die voorgeskrewe afsnytyd van sewe ure voltooi. Die CTCT, wat gewoonlik aan die begin van Maart aangebied word, is weens Covid-19-regulasies uitgestel.

Aanpassings is gemaak, soos om die getal deelnemers van 36 000 tot 18 000 te beperk. “Een van die aanpassings was ook om die wedren met ’n rolling start te begin. Met ander woorde, ons het nie in afgekampte blokke gewag om weg te spring nie. Ons het ’n wegspringtyd gekry en moes nie vroeër as 10 minute voor die tyd vir die wegspring aanmeld nie.

Deelnemers moes ten volle ingeënt wees teen Covid, of ’n negatiewe antigeen-toetsuitslag verseker op die perseël, waar ons ons nommers vir die wedren ontvang het teen ’n prys van R250. Dit het baie deelnemers onkant gevang,” het Du Toit gesê.

Roelf en Annatjie du Toit.

Na die wedren is die eerste vraag van vriende gewoonlik: “Wat was jou tyd vir die wedren?” Maar Du Toit sê hy antwoord altyd net, “Ek het darem klaargemaak.”

Vir hom is dit belangrik om die 109 km binne die afsnytyd te voltooi.

“In my ouderdomsgroep, 80 tot 84 jaar, was daar net 11 mans en twee dames wat die wedren voltooi het. ’n Dame in die 90-en-ouer groep het die fietsren in vyf ure en 55 min voltooi. Dit was net 20 min stadiger as my tyd. Dit is uit ’n totaal van 9 468 mans en 1 907  damesfietsryers. Dit is natuurlik heelwat minder as die ingeskrewe aantal deelnemers van 18 000. Ons fietsryers se wegspringtyd word bepaal deur jou keuring. Met ander woorde, deur jou prestasie tydens vorige wedrenne. Ons seun, Eben, het ’n goeie keuring gehad en om 07:00 weggespring terwyl ek om 07:40 weggespring het,” het hy gesê.

In 2017 het die Kaapse Dokter, soos die sterk, droë suidoostewind. Du Toit sê die wind is altyd ’n belangrike faktor vir fietsryers.

“Omdat ek ’n gelowige Christen is, en so baie van my gebede al verhoor is, het ek ook vir hierdie wedren volhard met gebed. Die dag voor die wedren het die wind nog redelik sterk gewaai, maar toe die Sondagoggend aanbreek, was dit windstil en ’n pragtige sonskyndag.”

Roelf du Toit tydens die CTCT. Foto: Jetline Action Photo CTCT 2021

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button