Local newsNews

Innibos 2021: Aaneen en oral, selfs al druk Covid

Die Standard Bank Innibos Kunstefees sal weens die voortdurende onsekerheid en beperkende regulasies onder die Covid-19-pandemie nie 'n vaste feesdatum vir 2021 aankondig voordat beperkings op openbare samekomste opgeskort word nie.

In 2020 is twee feesdatums aangekondig wat weens inperkings-maatreëls gekanselleer moes word net voordat kaartjieverkope daarvoor sou open.

“Gegewe die omstandighede is dit ‘n realistiese besluit deur die Innibos-direksie,” sê Andy Lubbe, feesdirekteur van Innibos. “Ondervinding het ons geleer dat die toekoms in ‘n oogwink kan verander en daarom wil ons nie nou reeds ‘n datum aankondig nie. Die bestuurspan het egter reeds ‘n opwindende program beplan waarmee ons volstoom sal wegspring sodra ons weet ons kán.”

Innibos beplan wel ‘n aantal deurlopende projekte vir die jaar. Dit sluit in huiskonserte in die Laeveld deur bekende musikante en die uitsending en stroming daarvan op die plaaslike radiostasie, Radio Laeveld, maandelikse boekbekendstellings, verskeie werkswinkels en landwye kompetisies.

Sandra Jacobs, media- en bemarkings-bestuurder van Innibos, sê die uitdagings weens die voortslepende pandemie is ‘n aansporing om splinternuwe geleenthede te skep.

“As ons nie een groot kunstefees kan hou nie, dan bring ons die kunste in verskeie gedaantes en in kleiner weergawes na die feesgangers.

Dit bly vir ons belangrik om kunstenaars te ondersteun, en om vermaak te bied in ‘n tyd waarin mense opkikkering nodig het.”

LEES OOK: Barberton-inwoner aangeval op plaas

Inligting oor die onderskeie projekte sal binnekort bekendgemaak word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button