Local newsNews

Renosters gevier op Wêreld Renosterdag

Care for Wild gee Laevelder 'n kykie agter die renostergordyn en vertel meer oor die organisasie se daaglikse bewarings- en reddingsprosesse.

As deel van Wêreld Renosterdag op 22 September het Laevelder besoek gaan aflê by die Care for Wild Rhino Sanctuary waar die stigter, Petronel Nieuwoudt, meer vertel het oor hul babarenosters van die pandemie-era wat hulle sedert die begin van die grendeltydperk ingekry het.

Sy het ook meer gedeel oor Care for Wild se verskeie ander inisiatiewe en hoe dit werk wanneer hulle ‘n renosterwesie kry.

“Eerste was klein Anchor (hy was een week oud by aankoms), toe het Yster (7 maande) ingekom. Volgende was klein Cotton (10 maande) en toe Ranger (9 maande).

“Verlede week het Lomshi (15 maande) (“Lomshiyo – neglected one”) by ons aangesluit, so ons was relatief besig,” vertel Nieuwoudt.

Renosterstropery

“Dit het eintlik gebeur toe die eerste deel van die grendelstaat verby is en mense kon weer as dagbesoekers by die parke ingaan. Voor dit het die hoeveelheid gevalle aansienlik gedaal, want mense kon nie ingaan nie en die stropers kon nie beweeg nie, selfs nie tussen grense nie.

LEES OOK: Equestrians back in the saddle

“Dat dit geweldig baie te doen het met korrupsie, beweging en die smokkelhandel daarvan is definitief die waarheid. Ek dink volgende gaan daar baie strikke wees, want mense gaan honger wees. Dit gaan klein misdaad tot gevolg hê, dus gaan mense ingaan en meer vir duikers, hasies en kleiner wild strikke stel net om kos te kry,” vertel sy.

Veral omdat werkloosheid nou aan die orde van die dag is, sal sindikate die geleentheid gebruik om mense te oorreed dat hulle ‘n vinnige geldjie kan maak as hulle deel vorm van die onwettige bedrywighede.

“Of dit met die verkoop van bosvleis is, die stel van strikke is, of sindikate is waarmee hulle betrokke raak – dis nie noodwendig net renosterhorings nie.”

Sy noem dat sindikate by ‘n baie wyer kring van misdade betrokke is as net die stroping van renosterhorings.

“Dit is eintlik hartseer dat die hele situasie nie tel vir die renoster nie. Die swartrenoster se getalle is wel besig om darem ‘n bietjie te herstel, al is hulle krities bedreig. Die witrensoter is net bedreig, maar hulle getalle is in ‘n afname.”

Die Kilometeruitdaging

Ter voorbereiding vir Wêreld Renosterdag, het die Care for Wild-span ‘n bewusmakingsveldtog aan die begin van dié maand geloods.

Verskillende lede van die span en ook ander rolspelers het elke dag dieselfde hoeveelheid kilometers as die spesifieke datum op kreatiewe maniere afgelê; hetsy deur te stap, draf of fiets te ry. Selfs die renosters het aangesluit vir sekere van die kilometers.

“Wêreld Renosterdag word verteenwoordig deur al vyf spesies. By ons het ons die wit- en die swartrenosters. En in Mpumalanga het ons 80 % van beide dié spesies wat in die wêreld oor is.

“Dit is ook iets om te vier en mense daarvan bewus te maak dat ons moet kyk na die nie-regeringsorganisasies, die dieretuine, die veiligheidshawes en bewustheid en opleiding. Ons het die naweek mense gehad wat gehardloop het sodat ander kan besef hulle kan op verskeie maniere daarby betrokke raak.

LEES OOK: WATCH: Care for Wild Rhino Sanctuary counts down to World Rhino Day

“As ek van hardloop hou of as ek van loop hou, as ek met mense kan praat, as ek met kinders praat… As ek kan brei, as ek my maatskappy kan betrokke kry op ‘n manier met Afdeling 18A-belastingvrystelling.

Gemeenskappe

“Óók waarvan mense nie bewus is nie is dat ons geweldig hard saam met ons gemeenskappe werk. As jy gemeenskapsbetrokkenheid kry is dit beter vir die spesies, want ons moet onthou dat renosters werk skep deur die toerismesektor.

“As ons nie dit ondersteun en behou en bewaar nie; as ons nie renosters het nie, gaan ons nie vir mense werk kan gee nie,” vertel Nieuwoudt.

LEES OOK: WATCH: KNP fires – Berg en Dal aftermath

“In Mpumalanga speel toerisme ‘n belangrike rol. Binne- en buitelandse mense besoek die Nasionale Krugerwildtuin en parke vir die Groot 5… Nie vir die Groot 3 of 2 nie, nie die Klein 3 of 2 nie.

“Hulle doen dit vir ‘n sonsondergang waar ‘n olifant is, waar ‘n renoster is, waar ‘n leeu water drink, waar ‘n luiperd is. Ons moet nie onderskat hoe belangrik dit is nie.

“As ons die renoster as ‘n sleutelsteenspesie bewaar, bewaar ons ook sy habitat. As ons sy natuurlike habitat en die ekosisteem bewaar, beskerm ons water, dan hout, dan die rooiduikers wat in hierdie omgewing is, dan die voëls wat hier voorkom.

“Dis geweldig omvattend hoe ons die bewaring benader. As ons vir mense werksgeleenthede in omgewingsbewaring gee, voel hulle trots daarop en kan huis toe gaan en nie noodwendig by ander kriminele aktiwiteite betrokke raak nie. Dit hou hulle ook besig,” sê sy.

LEES OOK: Exciting upgrades under way at Sabi River Sun golf course – nine holes open  

“Care for Wild se gesig is renosters, maar ‘n gedeelte waarvan baie mense nie bewus is nie, is dat ons aan meer as 400 mense werk gee.

“Deur hande te vat met die omliggende gemeenskappe en verhoudings op te bou, kan daar dan volhoubare ontwikkelings en bewaring plaasvind.”

Renosters wat na die veiligheidshawe gebring word

Wanneer ‘n renoster (spesifiek kalfies) ingeneem word, is daar ‘n paar belangrike stappe wat gevolg word. Om so gou as moontlik by die baba uit kom is die eerste en belangrikste stap.

Van daar af begin rehabilitasie. Hoe die span daarmee begin, hang alles af van wat met die renoster gebeur het voor hulle by hom/haar kon uitkom. Dit moet hulle dikwels aflei van die wonde of beserings waarmee die kalf daar aankom. Na die aanvaklike rehabilitasie word die dier vrygelaat, maar eers na ‘n deeglike assessering van die omgewing vir ondersteuning, beskerming en volhoubaarheid.

LEES OOK: Operation to dehorn rhinos at Manyeleti Nature Reserve a great success 

Nieuwoudt verduidelik hoe dit normaalweg sou plaasvind:

“Ons ontvang ‘n oproep; ‘n koei is dood gevind. Daar is ‘n kleintjie. Dan vra ‘n mens: ‘Het hierdie kleintjie wonde en hoe oud is hy? As hy 18 maande en ouer is, dan gaan hy na die Kruger-boma toe. Het hy wonde wat genees kan word of nie?

“As dit nee is, dan word hulle uitgesit. Die kalfie is stukkend geskiet of heeltemal gevreet deur roofdiere.

“Met die ouderdom van 12 maande en jonger kom hy na Care for Wild toe. Eers is dit vervoerreëlings, dan besluit ons of hy na die intensiewesorgeenheid of gewone bomas toe moet gaan.

“In die intensiewesorgeenheid begin ons bloed-, mis- en urinemonsters vat, so die veaartsenygedeelte vind dan ook plaas en sê, goed, hy het ernstige spierskade gehad. Hy het dalk in die veld rondgehardloop vir vier of vyf dae sonder sy ma en is geweldig gedehidreer. Dan is daar dalk nier- of lewerprobleme.”

Spierskade kan wees omdat ‘n olifant hom beetgekry het, of hy het baie ver gehardloop en nie water gekry nie. Hy is dalk heeltyd gejaag deur roofdiere, of ‘n ander renoster het hom verskriklik hard gestamp.

“Partykeer kom hulle hier by ons, dan is die beserings net té erg.”

Omdat daar aan die einde net ‘n baie klein persentasie gered word, kan hulle eenvoudig nie een van die renostertjies los nie. Daar het al renosters by hulle aangekom met afskuwelike wonde. Sommiges het leeumerke op hulle rûe, ander kapmerke van kapmesse.

LEES OOK: Take part in the Chicken Challenge

Die hoeveelheid wat hulle red verg verskriklike harde werk. Daar is maar min slaap wanneer ‘n nuwe kleintjie inkom, en ‘n mens is nie eers altyd verseker van die feit dat al daardie ure resultate gaan oplewer nie – ‘n mens weet eenvoudig nie altyd waardeur die renoster is voor hy by Care for Wild aankom nie.

Gedurende die eerste 24 tot 72 uur, word die kleintjies konstant volgens ‘n kontrolelys gemonitor. Die lys bevat dinge soos dehidrasie, uithongering, skok, maagswere, longe, emosionele toestand, uitskeiding en meer.

Back to top button