Local newsNews

NHS se eie prinses Diana oorlede

"Andrieza Van Graan (53) was Hoërskool Nelspruit se eie prinses Diana. Sy was almal se vriendin en het 'n sagte hart gehad." 

Dis hoe skoolmaats en die klas van 1985 dié pragtige vrou beskryf nadat dit verlede week bekend geword het dat sy skielik oorlede is. Roerende huldeblyke is op haar en haar familielede se Facebook-blaaie gedeel. Andrieza, ‘n boorling van Malalane, het haar laaste jare in Pretoria gebly.

Die Van Graan gesin het baie jare in die Nasionale Krugerwildtuin gewoon: Agter staan Andrieza en van links is Marina, Kotie, Japie, Jacolene en Johan. > Foto’s: Facebook

Sy was die dogter van die bekende oud-veldwagter, Johan van Graan, wat baie jare vir die Malalane-gebied in die Nasionale Krugerwildtuin verantwoordelik was. Daar is baie geskryf oor Johan se suksesvolle poging om leeuwelpies wat met die hand grootgemaak is weer suksesvol in ‘n wildtuin-trop te hervestig.

LEES OOK: Carebuddies help met spesiale verjaarsdag viering

Andrieza se suster, Marina Louis, wat in die Wes-Kaap bly, het gesê sy rou oor haar “beste vriendin” wat dood is. Andrieza se liefde vir diere en haar medemens is die rede waarom sy so geliefd was.

Sy het ‘n groot liefde vir diere gehad en hier is sy saam met die leeuwelpies wat hul in die NKW hand grootgemaak het.

Johan en haar ma, Kotie, het gesê: “She made broken look beautiful, and strong look invincible. She walked with the universe on her shoulders and made it look like a pair of wings”.

“Rus in vrede, my geliefde sus. Dit voel nog onwerklik, my hart is in stukke, ‘n onbeskryflike pyn. Ek het só uitgesien om in die nabye toekoms uiteindelik jou weer ‘n stywe druk te kon gee waar ons letterlik face-to-face op ons tyd kon praat oor al die jare wat ons nie saam kon wees nie,” het haar suster Jacolene, wat in Taiwan woon, op Facebook laat weet.

Andrieza saam met haar pa, Johan van Graan.

Haar broer Japie het gesê dit voel steeds onwerklik en haar dood het nog nie ingesink nie: “Sy sou enige iets vir ‘n mens doen. Sy het my al die jare bygestaan, deur goeie en slegte tye, en ek kon haar dag of nag bel. Sy laat ‘n geweldige leemte in my lewe.”

Marina het aan Laevelder gesê haar ouers is gebroke. Die familie het permitte bekom en het Maandag vanaf die Kaap gereis om Andrieza se gedenkdiens in Pretoria by te woon.

Haar skoolmaats het na haar verwys as die Prinses Diana van Hoërskool Nelspruit.

Behalwe vir haar haar ouers en twee susters, laat sy ook haar broer Japie, seuns Wessel Cronje, Jacques Cronje, Christiaan Botha en enigste dogter, Therieza, na. Andrieza het ook twee kleinkinders, Luke en Jacques, en skoondogters, Margit en Bianca.

LEES OOK: Een sterf, talle beseer in ongeluk op die R40

Back to top button