Local newsNews

Dienste by lisensiekantore nou weer ten volle beskikbaar

Net soos met Eskom se ontydige kragonderbrekings, is dienste by die lisensiekantore ook gereeld onderbreek.

MBOMBELA – Maar dit blyk nou iets van die verlede te wees. Joseph Ngala, woordvoerder van die Mbombela Plaaslike Owerheid, sê die dienste by al hul kantore is van Maandag af weer ten volle beskikbaar.

Gefrustreerde motoriste wat die afgelope weke voertuig- en bestuurderslisensies wou bekom, moes telkemale by die plaaslike lisensiekantoor, asook sy takke in Barberton, Witrivier en Hazyview, voor dooiemansdeur aankom.

Aangaande klagtes dat die kantoor by Witrivier sonder drukkerspapier is, sê Ngala dat inligting tot sy beskikking daarop dui dat al die kantore tans volstoom werk.

LEES OOK: Innibos wen weer eens fees van die jaar

Oor die rede vir die onderbrekings, sê hy dit is hoofsaaklik as gevolg van die oorskakeling van die lisensiedienste vanaf die stadsraad terug na die provinsiale regering.

“Die besluit om alle stadsrade in die provinsie van hulle verantwoordelikheid vir dienslewering met lisensies te stroop en terug na die Department van Gemeenskapsdiente, Veiligheid en Sekuriteit te skuif, is deur die kabinet van die provinsiale regering geneem.

Behalwe vir die onderbreking in rekenaardienste, is daar egter verskeie diepliggende probleme wat gepaard gaan met die oordrag van die verantwoordelikheid aan die regering,” sê Ngala.

Een van die kwessies is die toekoms van die lisensiekantoorpersoneel. Die personeel is veronderstel om deur die regering oorgeneem te word, maar baie het aangedui hulle wil nie die diens van die Mbombela Plaaslike Owerheid verlaat nie.

Ngala sê sulke personeel moet dan op een of ander manier na ander poste in die munisipaliteit oorgeplaas word.

Volgens Ngala is die munisipale bestuurder, Wiseman Khumalo, en die topbestuur van die Department van Gemeenskapsdiente, Veiligheid en Sekuriteit, tans in bespreking oor die kwessie.

LEES OOK: Hokkie bokkies samel geld in

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button