Local newsNews

Bekende skrywer oorlede

Engemi het diep spore in die Laeveld getrap waar sy veral op kultuurvlak by verskeie organisasies betrokke was en ook 'n skrywerskring in Mbombela gestig het.

MBOMBELA – Die bekende skrywer Engemi Ferreira (76) is Donderdagoggend oorlede. Engemi en haar man Johan Jordaan het onlangs na baie jare as Laevelders hul plaas La Staan in die Houtboschloopvallei vir Vermont in die Kaap verruil.


Engemi se bekendste werk is onbetwisbaar ”Die jaar toe my ma begin sing het wat sy in 1988 gepubliseer”. Vir dié boek het sy erkenning ontvang as naaswenner van die ATKV-prosaprys en dit was ook twee keer die naaswenner van die Rapportprys.

Die boek is later deur Wim Vorster vir die verhoog verwerk en in 1995 by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn opgevoer. Haar boek Moerdruk is in 1997 deur Elma Potgieter ook as toneelstuk verwerk en in die Witbank Stadsteater asook die Aardklop Kunstefees opgevoer.
Johan het gister aan Laevelder gesê Engemi het Saterdag geval en haar sleutelbeen gebreek, waarna sy in die Mediclinic Hermanus opgeneem is. Weens haar diabetes het haar toestand versleg en is sy vroeg gisteroggend oorlede.Tussen 1990 en 1996 het sy ter wille van haar kinders se skoolopleiding in Lydenburg gewoon.

 

Hier het sy as impresario opgetree, wat opkomende kunstenaars van regoor die land vir “Afrikaanse Aande met Konsert en Kos” genooi het. Sy was ook lid van die Bacchus-kwartet wat as a capella-groep oral in die Laeveld en Pretoria opgetree het.

LEES OOK: Laat reg en geregtigheid geskied
Haar kwinkslae en interessante vertellings het van haar ‘n geliefde persoon gemaak. Sy was ‘n Namibiër van geboorte, maar het as jong skoolkind ‘n jaar by haar twee oudste susters deurgebring in Nederland.
Terug in Suid-Afrika begin sy by Hoërskool Langenhoven in Pretoria op eie inisiatief ‘n skoolkoerant en tree op as redakteur, verslaggewer en verspreider.
Engemi het onder andere sang studeer en ook onder leiding van Anna Neethling-Pohl, Truida Louw en Francois Swart by die Universiteit van Pretoria drama studeer. Haar veelsydigheid ken geen perke; Engemi en het ook kursusse in moderne tale, filosofie en sielkunde geneem, asook beeldhou en skilderkuns by die Kunsskool van die Pretoria Technikon.
Johan sê: “Ek en Engemi is in 1964 getroud en my 55 jaar saam met haar was vol opwinding en wonderlike herinneringe.”Na die dood van hulle eerste baba in 1966 het Engemi ‘n belangstelling in die antroposofie, wat ‘n kennis is van die aard van die mens, of menslike wysheid, ontwikkel. Die egpaar het daarna nog ses kinders gehad.

 

Engemi het self ‘n draai by ‘n gemeenskapskoerant gemaak toe sy vir ‘n wyle die redaktrise van die Carletonville Herald se vroueblad was. Min mense weet dat Engemi ook regisseur van Jannie du Toit en Christa Steyn se baie gewilde program Jannie en die Tannie was, wat landwyd opgevoer is.

LEES OOK:Laerskool Laeveld hou massa-atletiek
In Mbombela het sy en Johan gereeld saam met die Lekkerbekke-eetgroep aangesit. Haar goeie vriend Marius Bakkes het gisteroggend op Facebook geskryf: “Ons liewe vriendin en die gevierde skrywer Engemi Ferreira-Jordaan is vanoggend dood. Baie sterkte aan Johan en die kinders. Ons Laeveldse vriende onthou net lieflike tye in haar geselskap en wonderlike kuiers by die Jordaans aan huis.”
Engemi het die afgelope paar jaar gereeld tussen hul plekkie in Vermont en Mbombela gependel terwyl Johan hard gewerk het om hul aftreeplek vir hulle klaar te bou.
Op 14 September het Engemi die volgende inskrywing op haar Facebook-blad gemaak: “I do not have many things to say any more, but this quote from B.K. I will repeat again and again and then more”, en naas dit die aanhaling van Barbara Kingsolver: Close the door. Write with no one looking over your shoulder.

 

Don’t try to figure out what other people want to hear from you; figure out what you have to say. It’s the one and only thing you have to offer.Sy laat haar man Johan en kinders, Engelize de Lange, Gregor Jordaan, Maia Kalan, Benedict Jordaan, Joshua Jordaan en Wieland Jordaan na.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Back to top button