Local newsNews

Superfiks en hardwerkende man sterf gedurende wedloop

Frik laat sy eggenoot, Elize, sy seun Stephan van Eeden, sy dogter Alet Brandt, sy stiefseun Louis Kempen, sy broer Willie van Eeden en ses kleinseuns agter

MBOMBELA – “My pa was ‘n baie hardwerkende mens en ‘n man van vele talente. Daar is niks wat hy nie kon doen nie. Hy was reguit, sterk in waarin hy geglo het en was ook bereid om vir sy beginsels te staan,” beskryf Louis Kempen sy pa, Frik van Eeden (74).

Hy is tydens die Dusk to Dawn-marathon in Pretoria op 30 Augustus oorlede. “Hy het vas geglo in God, land, ‘n Toyota-bakkie en regverdigheid.

“Dit was sy tweede honderdmylwedloop en sy hart het net gaan staan,” vertel ‘n gebroke Kempen. “Dit was ‘n natuurlike dood en ons sien dit dikwels met sportmense wat superfiks is soos my pa was.”

Frik en Elize Van Eeden.

LEES OOK: #NelspruitEisteddfod40: FOTO’S: Met instrumentale afdeling kom fees tot ‘n eind

Volgens Kempen was Frik ‘n besonderse persoon wat ‘n groot impak op sy familie en vriende gehad het. Hy het ‘n wye kennis gehad en was ‘n toegewyde wedloper wat tydens sy leeftyd 14 Comrades, in totaal 1 034 marathonne voltooi waarvan vele ultra-marathonne en drie individuele 100 mylers en een honderdmyle was.

Die wyle Frik is gebore in Krugersdorp waar hy grootgeword het en volgens sy eggenote, Elize, het hy sy lewe geleef volgens ‘n gesegde wat sy oupa aan hom geleer het dat ‘n mens van sonop tot sonsondergang moet werk.

“Hy was verskriklik lief vir die natuur en is elke Saterdagoggend douvoordag wakker om gras te sny. Ons bure het altyd geskerts en gesê dat hulle selfs moeg raak terwyl hulle kyk hoe hard Frik werk.”

Frik Van Eeden wys sy waaghalsige sy.

LEES OOK: KYK: Foeta Krige kuier by Pen in my Hand

Sy hardloopmaat, Deon Meyer, het gesê: “Frik was lojaal teenoor die Nelspruit Marathonklub en een van die senior hardlopers wat die belange en behoud van die klub op sy bors gedra het.”

Sy dogter, Alet Brandt vertel: “Die wedloop waartydens my Pa oorlede is, was die tweede 100 myler Dawn 2 Dusk aflos wedloop waaraan hy deelgeneem het tesame met my, sy seun, Stephan en vriendin Nelmarie Kapp.

“Ons drie het die wedloop voltooi vir my Pa nadat ons reg deur die Vrydagnag na sy afsterwe en die volgende dag die 160km afgelê het en vir oulaas vir ons Pa ‘n medalje ontvang het waarop hy so trots sou gewees het.”

Volgens die familie was Frik ‘n baie ondernemende persoon wat behalwe sy belangstelling in wedlope, ook in die bou- en versekeringsbedryf betrokke was.

“Hy het vele huise in Mbombela gebou en was verantwoordelik vir die ontwikkeling van Sonheuwel van 1983 tot 1995, en het selfs rugbylegende Naas Botha se huis gebou.

“In 1996 het hy ‘n versekeringsmakelary begin en dit ‘i’langa’ genoem op voorstel van regter Phineas Mojapelo.”

LEES OOK: Ontmoet: Marius van Rensburg

Sy dogter Alet het afgesluit: “Ons Pa was baie geliefd en bekend in Nelspruit en die Laeveld, en alhoewel ek weet niemand my Pa se skoene kan volstaan nie, vertrou ek dat al sy kliente lojaal sal bly teenoor Ilanga Makelaars, die besigheid wat hy met ‘n passie en opregte liefde vir dit wat hy gedoen het, opgebou het.”
Frik laat sy eggenoot, Elize, sy seun Stephan van Eeden, sy dogter Alet Brandt, sy stiefseun Louis Kempen, sy broer Willie van Eeden en ses  kleinseuns agter. Sy begrafnis is verlede Vrydag om 11:00 by die Hervormde Kerk gehou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button