Local newsNews

KYK: Foeta Krige kuier by Pen in my Hand

Krige het vir Alita Steenkamp meer vertel oor die gebeure wat aanleiding gegee het tot sy boek, SABC8, wat onlangs verskyn het.

MBOMBELA – Die SABC was nog altyd gekaap; destyds was dit net meer gesofistikeerd as nou. Só het Foeta Krige sy boekgesprek by Pen in my Hand afgeskop. Dié gesprek is verlede Donderdag by Orange Restaurant gehou.

In 2016 was Krige een van agt joernaliste wat uit die SABC geskors is. “Die lewe in die nuuskantoor by die SABC was ondraaglik weens mense soos Hlaudi Motsoeneng.”

LEES OOK: EXCERPT: SABC8 author coming to the Lowveld

Na afloop daarvan het Krige en die ander sewe joernaliste ‘n groep gevorm wat vir persvryheid binne die uitsaaier baklei het. Hiervoor het hulle baie teenkanting van die mediamaatskappy ontvang en is hy en sy familie gereeld met die dood gedreig.

Krige het vertel dat hy glo die afdankings en dreigemente daarna beslis bygedra het tot die dood van een van die agt joernaliste, Suna Venter. Hy vertel dat sy hom een keer per WhatsApp-boodskap laat weet het dat iemand haar in ‘n veld vasgemaak het en die gras om haar aan die brand gesteek het.

https://www.facebook.com/lowvelder.co.za/videos/526424721463746/

“My familie het gesmeek dat ek nie moet gaan nie en gesê hulle dink dit is ‘n lokval,” het Krige vertel. Hy het in sy kar geklim en betyds by Venter uitgekom om haar te red.

“Suna is die een wat eers met die boek begin het.” Die boek is volgens tydlyne geskryf en daar was “geweldig baie dokumentasie” rondom die onderwerp om mee te gewerk het.

Steenkamp het uitgewys dat Krige wel nooit vir Venter direk aanhaal in die boek nie. Hy het verduidelik dat hoewel al agt joernaliste ‘n WhatsApp-groep saam gehad het, die kopiereg van Venter se boodskappe na haar dood aan haar ouers behoort. Hulle het nie toestemming gegee dat dit moet verskyn nie.

LEES OOK: KYK: Alita Steenkamp en Stefaans Coetzee gesels oor nuwe boek

Krige het ook genoem dat dit vir hom moeilik was omdat dit joernaliste was wat skielik die nuus geword het. “Hoe dek jy dit op ‘n objektiewe manier as jy deel is daarvan?”Krige sê hy droom van koeëlvaste vensters reg rondom die SABC sodat hulle altyd die waarheid kan verkondig.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button