Local newsNews

KYK: Pen in my Hand vier dr Tian Schutte se nuwe boek

Gaste het by die onlangse Pen in my Hand-geleentheid 'n gesellige geskiedenisles ontvang toe Tian Schutte meer oor sy boek Treinvernielers vertel het.

MBOMBELA – Tydens die geleentheid wat by Orange Restaurant gehou is, is Schutte ook met ‘n toekenning van Mpumalanga Erfenis vereer.

Dié toekenning word jaarliks aan kandidate toegeken wat ‘n uitsonderlike bydrae tot die optekening van Mpumalanga se geskiedenis maak. Tesame met die geselsie oor die boek, het Schutte ook skyfies van ou foto’s gewys.

Die boek, wat Schutte saam met Piet Coetzee geskryf het, vertel die storie van die rol wat treine tydens die Anglo-Boereoorlog gespeel het.

LEES OOK: Pen in my Hand: Birders take flight

Die treine is hoofsaaklik gebruik om voorrade te vervoer – en was dus ‘n lewensaar vir beide die Britse en Suid-Afrikaanse soldate.

Schutte het verduidelik dat mettertyd, soos die Boere se voorraad opgeraak het, hulle besef het dat die treine met Britse militêre voorraad hulle handig te pas sal kom. Aanvanklik is treine amper daagliks oorrompel deur ghries op spoorstawe te smeer, klippe om draaie te pak en spoorstawe los te maak.

https://www.facebook.com/lowvelder.co.za/videos/679664822498087/

Volgens Schutte het dit die Britte genoop om masjiengewere op treintrokke voor en agter die treine te monteer om hierdie tipe aanslae af te weer.

Schutte het ook van die sewe boerekommando’s vertel wat hoofsaaklik die oorlog gevoer het en hoe die oorlogvoering in die Laeveld gelyk het.

LEES OOK: KYK: Alita Steenkamp en Stefaans Coetzee gesels oor nuwe boek

Treinvernielers fokus ook op verskeie aanvalle op treine wat later unieke name gehad het weens die vragte wat hulle vervoer het of die plekke waar die aanvalle plaasgevind het, soos die Suiker-, Whiskey- of Krismistreine. Die aanvalle word breedvoerig bespreek en op kaarte aangedui.

Die agterkant van die boek spog ook met ‘n volledige opsomming van alle spoorinsidente regoor Suid-Afrika van die begin tot die einde van die oorlog.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button