Local newsNews

Toeka se humor laat gehoor skater

Die radioman met die fluweelstem, Ian Wessels, is hierdie jaar weer by die Boma-kuierteater te sien in ‘n eenmanvertoning en sy humor is steeds so vlymskerp soos altyd.

Alhoewel die sitplekke ‘n bietjie nat was gistermiddag na ‘n oggend se motreën, was die gehoor se goeie humor allermins gedemp.

Wessels het besluit om hierdie jaar die nostalgiese roete te volg en humor van toeka se dae afgestof en weer nuwe lewe gegee.

‘n Gelukkige lid van die gehoor kon ook met ‘n bottel brandewyn wegstap vir haar pragtige kleintongetjie.
Wessels het daarmee opgestap en die gehoor aangemoedig om sonder enige voorbehoud tydens die vertoning te lag om die prys te ontvang.

Hy het begin deur te gesels oor hoe dinge gedurig verander en spottenderwys na die veranderings in modes verwys.

Hy het daarna die gehoor vermaak met staaltjies oor sy onbeholpenheid met rekenaars en daarna na skoolhumor verskuif. Snaakse opstelvrae, skerp antwoorde en kinders se reguit en interessante maniere van die wêreld waarneem het ook groot byval by die gehoor gevind.

Daarna het humor oor bierdrinkers, grappies oor huwelike en wittebroodsreise van bejaardes gevolg.

Wessels het afgesluit met ‘n grappie oor ‘n doktor wat van beroep verander het wat gelag deur die Boma-kuierteater laat weergalm het en die gehoor nog lank sal bybly.

Die vertoning is propvol van Wessels se kenmerkende, skerp humor en sal beslis in aanhangers van komedievertonings se smaak val.

Hy is vandag om 12:00 en Saterdag om 16:00.

Feesgangers sal ook teen ‘n spesiale Innibos-prys sy nuwe boek, Lag Sonder Grense kan aanskaf en ‘n geselsie met Wessels kan aanknoop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button