Local newsNews

FOTO’S EN VIDEOS: Sarkoom kry dapper Sean nie onder nie

Sean is minder as 'n maand nadat hy sy 12de verjaardag op 10 April gevier het, met Ewing se sarkoom gediagnoseer.

MBOMBELA – Dapper. Dié woord gebruik Sean Adlem se ma Amor gereeld wanneer sy oor hom praat. Ook braaf en saggeaard, “maar dit is te verstane dat hy nou en dan ook ‘n bietjie bang is”.

Sean is minder as ‘n maand nadat hy sy 12de verjaardag op 10 April gevier het, met Ewing se sarkoom gediagnoseer. Dit is ‘n aggressiewe tipe beenkanker wat, onder andere, intense pyn veroorsaak. Dit het ook veroorsaak dat die T7-beentjie in Sean sy rugstring verkrummel.

Sean Adlem in die hospitaal.

“My kind se rug is basies gebreek,” sê Amor.

In Februarie het Sean oor rugpyn begin kla. Sy ma het die pyn eers aan ‘n rugbybesering toegeskryf, aangesien Sean voor sy diagnose ‘n kranige rugbyspeler vir Laerskool Nelspruit was.

Daarna het die pyn so erg geword dat dit Sean se slaap versteur het. In April is hy eers verkeerdelik met skoliose gediagnoseer.

Volgens sy ma het geen pynmedikasie wat vir die skoliose voorgeskryf is, enige verligting gebring nie en op 18 April het dinge skielik skeefgeloop.

“Ek het daardie aand wakker geword met my seun wat huil van die pyn en sê hy het gevoel hy wil badkamer toe gaan maar kon nie knyp nie. Hy kon toe ook nie meer op sy eie loop nie.”

Dokter Tanya Schickerling, pediatriese onkoloog, ondersoek Sean Adlem.

Die volgende dag, Goeie Vrydag, is hy terug hospitaal toe. Na konsultasie is hy per ambulans na die Unie Hospitaal aan die Oos-Rand geneem. Daar is hy geopereer omdat hy ‘n neurologiese terugslag gehad het.

LEES OOK: Geliefde inwoner sterf net voor 100 jaar

Tydens die operasie is ‘n gewas aan sy ruggraat gevind. Hy is daarna in die volwasse-intensiewesorgeenheid geplaas. “Selfs in die hospitaal is hy ook in die volwasse-eenheid geplaas. Ek voel so jammer oor al die goed wat my kind die afgelope tyd moes sien.”

Sean en pa Patrick Adlem.

Sean se pa, Partick en boetie, Alec (8) het by hulle in Johannesburg aangesluit. Op 28 April, na verskeie toetse, die neem van X-strale en die een skandering na die ander, is Sean met sarkoom gediagnoseer.

Hy is na Netcare Clinton Hospitaal afgevoer waar hy in isolasie geplaas is en by ‘n pediatriese onkoloog behandeling begin ontvang het. Op 6 Mei het Sean sy eerste ronde chemoterapie ontvang. Teen einde Augustus sal hy nog vyf rondes moet ondergaan. “Daarna sal daar besluit word wanneer hy ‘n operasie vir sy rug kan kry en of hy in remissie kan gaan,” sê Amor.

Sean moes intussen weer leer loop en verlang baie huis toe terwyl hy in die hospitaal aansterk. Volgens Amor is dit hulle geloof en die ondersteuning van die gemeenskap wat die familie staande hou.

“Ons is diep gewortel in ons geloof en ek weet dat die Here net iets oor ‘n mens se pad stuur wat ten einde tot sy verheerliking sal wees. Ons vat dit stap vir stap. Ons het groot berusting in die mediese span wat na Sean omsien en is baie dankbaar vir hulle.”

LEES OOK: FOTO’S EN VIDEO: Nelspruit Care Buddies bederf meer as 200 bejaardes

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button