Local newsNews

Vrou kom deur diep water en wil ander help

Wanneer jy Gerdi Willemse ontmoet, groet sy jou met 'n warm glimlag.

Maar namate jy haar leer ken, besef jy dat daar baie seer agter daardie glimlag skuil. Willemse se storie is egter een van hoop. “Maak nie saak in watter donker gat jy is nie, jy kan daar uitkom,” sê sy.

In haar leeftyd het Willemse bulimie en anoreksie gehad, was sy ‘n alkoholverslaafde, is sy in een verhouding na die ander mishandel, het sy ‘n miskraam gehad en het sy drie maal probeer om haar eie lewe te neem.

Dit alles voor die ouderdom 45. Willemse se probleme het op skool begin toe sy minderwaardig gevoel het en haarself eers aan anoreksie en toe bulimie oorgegee het.

“Toe ek maer was, het ek verslaaf geraak aan die aandag van mans en het ek myself as seksobjek aan hulle voorgehou.”

Sy is op die ouderdom van 20 die eerste keer getroud. “Dit was nie vir my genoeg nie.” Op 24 is sy geskei en op 25 met die pa van haar seun, Josh, getroud.

“Hy was ryk en aantreklik en ek het gedink dit is alles wat ek wil hê. Maar hy het alle besluite namens my gemaak en my emosioneel afgeknou. Ek was niks behalwe sy vrou nie.”

Op 35 is sy van hom geskei en hy het haar verbied om enige van Josh se skoolgeleenthede by te woon.

“Dit het my gebreek. Ek was ‘n goeie ma en nou kon ek nie meer deel van my kind se lewe wees nie. Ek moes aanvaar dat geld harder as enigiets anders kan praat.”

Volgens haar het sy weer losbandig geraak en liefde en aanvaarding in die arms van mans en vroue gesoek. Daarna was sy vir drie jaar in ‘n verhouding met ‘n vrou wat haar gemanipuleer het.

ALSO READ:#LifeBegins@40k

Gedurende hierdie verhouding het sy twee maal selfdood probeer pleeg en dit is waar haar drankverslawing begin het. Nadat sy die eerste keer in ‘n rehabilitasiesentrum was, het sy agter ‘n verhoudingsmaat na Mbombela getrek.

Toe dié verhouding skeefloop, het dit Willemse tot breekpunt gedryf. “Ek het by ‘n hotel ingeboek en vir twee aande en drie dae aaneen gedrink.

Ek het gedrink tot ek aan die slaap geraak het en dan weer wakker geword om te begin drink. Dit was so erg dat ek nie eers uit die bed uit opgestaan het om badkamer toe te gaan nie.

“Ek het net gebid en aanhoudend vir die Here gesê dat ek wil sterf.” Volgens haar het sy ‘n buiteliggaamlike ervaring gehad en gesien hoe sy in die bed lê en besef dat sy ter wille van haar kind, wil bly leef.

Na die derde selfdood-poging in ‘n hotelkamer in die stad, het sy haar lewe totaal omgekeer. Sy het ‘n vriendin gebel wat haar onmiddellik na Akeso geneem het.

Van daar is sy vir nege maande na Healing Wings. Willemse is nou die huismoeder by die vrouehuis by Recovery Centre at White River en is al langer as ‘n jaar skoon.

Hier is sy ook besig om vir ‘n berader te studeer. Volgens haar het sy volle verantwoor-delikheid vir haar lewe aanvaar en blameer sy nie ander vir haar foute nie.

Sy nooi ook dié wat met soortgelyke probleme worstel uit om na haar uit te reik. “Ek het my lewe oorgegee aan God se wil. Ek weet dat ek nou my doel uitleef omdat dit net deur sy wil is dat ek vandag hier is.”

ALSO READ: UPDATE: Storm heading for Mozambique to form into Cyclone Kenneth tonight

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button