Local newsNews

Ses gearresteer na grutoneel met beeste

'n Grutoneel het Dinsdag by die Nelspruitse DBV afgespeel toe agt beeste uit 'n minibus gered is.

MBOMBELA – Die beeste was ontwater en mis en urine het vanuit die minibus gestroom toe reddingswerkers die voertuig oopmaak.

Een van die koeie was so erg beseer dat ‘n veearts haar op die DBV se perseel moes skiet. Volgens die provinsiale polisiewoord-voerder, kol. Mthsoli Bhembe, is die beeste in Belfast gesteel.

Die DBV se leerlinginspekteur, Christine Payne, waak bekommerd by die koei.

Ses mans tussen die ouderdomme van 22 en 69 is hiervoor gearresteer. Hulle sou na verwagting gister in Belfast se landdroshof verskyn het. Hulle word van diefstal aangekla.

Volgens die DBV se ondervoorsitter, Ludi Botha, het hulle Dindsdagoggend ‘n oproep van die SAPD ontvang. Die polisie het die minibus by ‘n padblokkade op die Sabie/Lydenburgpad afgetrek en die DBV ontbied toe hulle vermoed het dat die bestuurder lewende hawe sonder die nodige permitte vervoer.

https://www.facebook.com/lowvelder.co.za/videos/597955414015206/

Christine Payne, die DBV se leerling-inspekteur, is na die toneel waarna sy in ‘n konvooi met die polisie en minibus na die organisasie se perseel in Mbombela gery het.

Die bestuurder van die minibus en sy passasier is in hegtenis geneem. Vier ander mans is later in Belfast gearresteer.

LEES OOK: Nuwe hokkie vir hasies by die Nelspruit DBV

“Dit is skrikwekkend. Ons het nog nooit so iets gesien nie,” het Botha gesê. Polisie op die toneel het bevestig dat die diere op pad was na Bosbokrand. Die regmatige eienaar het hulle Dinsdag-middag kom haal. Afgesien van die saak van diefstal is ‘n saak van dieremishandeling teen die bestuurder aanhangig gemaak.

Botha sê dit sou vir hulle baie makliker gewees het om die beeste te hanteer, as hulle die nodige toerusting en fasiliteite gehad het. Dit sal egter slegs moontlik wees wanneer plaasdierskutstatus aan hulle toegeken word.

Die DBV se ondervoorsitter Ludi Botha waak by die koei.

Laevelder het voorheen berig dat die DBV al byna twee jaar lank met die munisipaliteit onderhandel om hierdie status te ontvang. Dit sal ook die oplossing wees vir die groot getal loslopende beeste wat op die stad se paaie voorkom aangesien die DBV dan oor die magtiging sal beskik om sulke diere te skut.

Daar was Sondagaand juis so ‘n geval toe rondloperbeeste op die Kaapsehooppad gevind is. Die munisipaliteit het teen druktyd nog nie op die koerant se navrae geantwoord nie.

LEES OOK: SPCA Nelspruit struggling to feed the animals in its care

Een van die beeste wat uit die minibus gekom het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button