Local newsNews

Idai: Só kan Laevelders help

Paediatric Care Africa, die Witrivier-gebaseerde niewinsgewende organisasie, is een van die wat onverpoos besig is om die mense in Mosambiek te probeer help. 

MBOMBELA –  Sikloon Idai word beskou as die ergste storm wat die suidelike halfrond en Afrika al getref het. Sy het alles in haar pad verwoes.

Peadiatric Care Africa beraam dat meer as 100 000 kinders in Mosambiek geraak is en hulp desperaat benodig.

Die organisasie se dr. Andre Hattingh is sedert verlede week in Mosambiek.

Hy het verlede Maandag ‘n ton kos wat die plaaslike gemeenskap geskenk het na Beira geneem.

KYK: Idai aftermath in Mozambique

Weens die verspoelde paaie is die stad egter ‘n eiland en hy kon nie nader as Inchope, sowat 90 km van Beira af, kom nie. Slegs drie mure van hul plaaslike kliniek staan nog.

Hattingh het toe besluit om die dorpie “aan te neem”. Hy het al sy voorraad aan die mense daar geskenk en beplan om ‘n tydelike kliniek oop te maak.

Hy het reeds ‘n plaaslike orthosjirurg gehelp om ‘n breuk in ‘n 19-jarige vrou se pelvis te herstel.

Hy het ook ‘n operasie op ‘n volwasse man uitgevoer om sy erge armpyn, wat deur geknypte senuwees veroorsaak is, te verlig.

LEES MEER: Local heroes head to help Cyclone Idai victims

Omdat die paaie so verspoel is kan die mense tussen Inchope en Beira nie bereik word nie.

Honderde duisende mense woon hier en is afgesny van kos, skoon water en mediese sorg.

Hattingh sou Sondag teruggekeer het. Hulle poog om 30 ton kos in te samel. Veral rys, mieliemeel, gebottelde water, babamelk en blikkieskos word benodig.

Hulle samel ook geld in om medisyne aan te koop.

Hy sê dit is ‘n dringende saak en het mense aangespoor om die reddingsinisiatiewe te ondersteun.

“Enige donasie sal ‘n verskil maak,” het Marcelle Clark van Paediatric Care Africa gesê.

Besoek pediatriccareafrica.org vir meer.

  • Riverside Mall help ook met die verwoesting wat gesaai is. Hulle het besluit om ‘n afsetpunt te wees vir enige vorm van ondersteuning wat die publiek wil gee. Laai enige skenkings by die Customer Care-lessenaar naby Detroit Spur af.

Back to top button