Innibos wen fees van die jaar vir die vierde keer
"Dit is nie ons trofee nie, dis die Laeveld s'n."
Die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees is by Donderdagaand se kykNET Fiëstas weer as die beste fees in die land aangewys.
Dié toekenning is gegrond op stemme van die publiek wat vir 2018 se feeste van regoor die land kon stem.
Volgens Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuurder van Innibos, het hulle dit glad nie verwag nie, “maar ons het aanhou hoop”.
Sy vertel dat hulle baie dankbaar is vir al die ondersteuning wat hulle van die publiek ontvang het. “Dit is nie ons trofee nie, dis die Laeveld s’n,” het ‘n opgewonde Jacobs vertel.
“Ons is nou ampetelik die fees wat die toekenning al die meeste kere gewen het,” sê Jacobs. Die fees het in die nege bestaansjaar van die kompetisie al vier maal gewen.
LEES OOK: Innibos rol met van SA se gunstelingkunstenaars
Volgens die fees se Facebook-blad het hulle ook die prys vir die beste buitelugkonsert gewen. Dit is aan hulle toegeken vir die kykNET-konsert wat op Saterdag 30 Junie 2018 plaasgevind het.
Dié skouspel is deur Barry Pretorius aanmekaar gesit en het kunstenaars soos Ray Dylan, Theuns Jordaan, Jo Black en Lianie May ingesluit.
Jacobs vertel dat hulle reeds opgewonde is vir vanjaar se fees wat van 26 tot 29 Junie plaasvind.
Kaartjieverkope begin op 1 Maart. Vir meer inligting kan die fees se Facebook-blad besoek word.
LEES OOK: Rock na hartelus by vanjaar se fees