Local newsNews

FOTO’S EN VIDEO: Die Care Buddies bring glimlagte na Alzheimer pasiënte

Hulle besoek elke week die Alzheimer pasiënte by SAVF Herfsakker.

MBOMBELA – As jy op ‘n Donderdag-oggend die klanke van “Ek soek na my Dina” by SAVF Herfsakker hoor, kan jy maar weet die Nelspruit Care Buddies kuier by die inwoners van die Alzheimer-saal.

Daar is egter ‘n kinkel in die kabel, want in plaas van Dina sing hulle die name van elke liewe inwoner van dié saal. Hulle oë verhelder wanneer die gedeelte “O, daar is my Dina” gesing word. Die personeel en hoofsuster sing ook te lekker saam.

Warren Parks saam met Care Buddies se Anne-Marie Viljoen.

“Ons speel ook elke Donderdag met hulle ‘n verskeidenheid speletjies en ek lees vir hulle ‘n boek,” verduidelik Care Buddy, Anne-Marie Viljoen.

Dit sluit in om ‘n bal te rol of te gooi en dan weer te vang en om borrels te blaas wat die inwoners ook moet probeer vang.

Nellie van Heerden is opgewonde oor die musiek.

LEES OOK: Care Buddies gee terug aan meer as 500 mense

Hulle het die kuiersessies sowat drie jaar gelede begin. “Ons kuier gewoonlik net by die ouetehuis, maar het besef dat hierdie inwoners ook mense nodig het,” sê Viljoen.

Afgesien van die speletjies, sê sy dat sing steeds vir hulle die lekkerste is.

SAVF Herfsakker se Rose Mthomboti, Care Buddies se Anne-Mari Viljoen en die tehuis se susters, Winnie Mundell en Jolene Odendaal.

Wanneer die tyd aanbreek, kry elke inwoner ook ‘n instrument waarmee hulle mekaar kan vermaak. Hulle sing met groot glimlagte vir meer as ‘n uur aaneen, liedjies soos “My Bonny lies over the ocean”, “Jan Pierewiet” en “Jesus loves me, yes I know”.

Die laasgenoemde bring trane in die oë van die personeel en Care Buddies. Dis asof hulle en die inwoners besef dat die Here steeds vir hulle lief is, al het hulle ‘n siekte wat hul leefstyle verander het.

Olga Pretorius met ‘n bal wat sy gevang het.

LEES OOK: Care Buddies share Christmas love

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Back to top button