Local newsNews

Man gevangene in sy eie huis weens pyn terwyl hy wag vir operasie

"Ons is absoluut moedeloos en weet nie meer watter kant toe nie. Ons is raadop."

MBOMBELA – “Pyn is ‘n lelike ding en so ‘n pyn kan ‘n mens doodmaak.” Met trane in haar oë vertel Ansie Botes van haar man Ronnie wat volgens hulle verskeie kere by Rob Ferreira Hospitaal weggewys is.

Ronnie het in 1983 ‘n heupvervanging gekry nadat hy in ‘n motorongeluk was. Volgens Ansie het die heup in 2012 vir die heel eerste keer begin probleme gee. Toe hulle by Rob om hulp gaan aanklop, is hulle na Steve Biko Hospitaal in Johannesburg verwys. Hier is hy weer vir verdere ondersoek na Rob Ferreira teruggestuur wat hom weer weggewys het.

LEES OOK: Tot 1 000 pasiënte wag op operasies weens tekort aan ortopeute

Die paartjie wou nie weer terug gaan nie, maar die heup het al hoe meer verswak en in 2016 het hulle dieselfde paadjie gestap.Weer is hulle weggewys.

Ronnie en Ansie Botes. Hy is nou baie afhanklik van haar.

Ongeveer vyf maande gelede het hulle na die hospitaal teruggekeer en nadat die personeel X-strale van die heup geneem het, het hulle bevestig dat hy weer ‘n heupvervanging nodig het maar dat hulle hom nie sou kon help nie.

“Voor ons laaste besoek aan die hospitaal het ek geval en van toe af kan ek skaars loop,”

sê Ronnie.

Hy erken self dat hy nou verslaaf is aan pynpille en baie nagte nie kan slaap nie as gevolg van die pyn. Die paartjie het gedink dat hulle dalk weer na Steve Biko Hospitaal sal kan gaan om daar te probeer hulp kry, maar hy kan nie meer die lang pad soontoe onderneem omdat hy nie so lank in die kar kan sit nie.

“En ons kan nie ‘n privaat hospitaal of ‘n privaat ambulans bekostig om hom te vervoer nie,”

sê Ansie.

Die provinsiale departement van gesondheid se woordvoerder, Dumisani Malamule, het gesê dat daar in 2012 geen ortopediese dokter by Rob Ferreira was nie en pasiënte wat ‘n heupvervanging nodig gehad het, is noodgedwone na Steve Biko verwys.

“Dit is nie duidelik waarom Steve Biko na bewering nie die pasiënt kon help nie, maar Rob Ferreira adviseer meneer Botes om sy weg na hulle terug te vind vir verdere bestuur en versorging,”

het Malamule gesê.

Hy kon nie bevestig of die hospitaal wel nou oor die nodige speasialiste beskik om ‘n heupvervanging te kan doen nie en ook nie wat die wagtyd vir so ‘n operasie is nie.

“Ons is absoluut moedeloos en weet nie meer watter kant toe nie. Ons is raadop.”

LEES OOK: Rob Ferreira Hospital a sinking ship

Back to top button