Local sportSport

Klein begonne, maar groot gewonne

Hy was nog altyd die kleinste en kortste outjie op skool - baie afgeknou - en kon nooit goed in rugby en ander sportsoorte presteer nie.

Van ‘n tingerige dwelmverslaafde op die ouderdom van 15, tot plek op die podium van Suid-Afrika se grootste liggaamsboukompetisie – Stefan Marais is ‘n toonbeeld van ‘n sportman wat hom deur niks laat onderkry nie.
Hy was nog altyd die kleinste en kortste outjie op skool – baie afgeknou – en kon nooit goed in rugby en ander sportsoorte presteer nie.

Om te probeer inpas, het hy dwelms begin gebruik, maar voor hy sy oë kon uitvee, het dwelmgebruik vir ontspanning ontaard in ‘n verslawing.
Maar in 2013 is hy uit Healing Wings ontslaan nadat hy sy verslawing oorwin het. Hier het hy die Here ontmoet. Dit was in Desember daardie jaar toe sy swaer hom aangemoedig het om saam met hom by die tuis te begin oefen. “Hy was die rede dat ek hierdie pad aangepak het.”

 

“In die gimnasium is dit net ek teen myself. Na ‘n moeilike kinderlewe kon ek al my fokus net op die verbetering van myself plaas,” en dit is waar hy selfvertroue ontwikkel het, of dit nou vir die verhoog of selfs vir ‘n werksonderhoud was.”
Sonder veel finansiële steun het hy met gewigte tot sy beskikking, onverpoosd begin oefen. “Ek het ook my familie uit die huis uit begin eet,” skerts Marais.

 

Hy het uiteindelik by sy hoërskool se gimnasium aangesluit, en in 2016, in sy matriekjaar, het hy in sy eerste liggaamsboukompetisie, die IFBB Mpumalanga Intermediêr deelgeneem. Hy palm toe ‘n tweede plek in die o/23-kategorie in. “Na dié kompetisie het ek werklik ‘n passie ontwikkel om op daardie verhoog te staan as ‘n liggaamsbouer.”
Na skool het hy by ‘n produksiemaatskappy begin werk, en deur Trifocus Fitness Academy begin studeer met die oog daarop om ‘n giminstrukteur te word. “Ek het in daardie jaar weer in dieselfde kompetisie deelgeneem en met die louere in die junior en senior kategorie weggestap.”

 

Marais dring toe deur na die IFBB Mpumalanga Provinsiale Kampioenskappe waar hy algeheel tweede was, en ook na die IFBB SAs. Sy vierde plek daar het hom ‘n plek in SA se grootste liggaamsboukompetisie, die Arnold Classic verseker.

Sy voorbereiding hiervoor, met Nutrition Rage Nelspruit bankvas agter hom, was volgens hom die moeilikste van al die kompetisies. “My liggaam het om een of ander rede in skok gegaan en het geweldig baie vog teruggehou – tot so ‘n mate dat my enkels opgeswel en pers geword het,” vertel hy. Boonop was hy die dag voor die kompetisie nog in ‘n motorongeluk en het toe sonder vervoer gesit. “Dit het gevoel asof alles wil keer dat ek in die kompetisie deelneem, maar ek het steeds aanhou hoop en bid, en steeds my beste gegee in die gim en my eetplan. Lang storie kort: ek het toe met my beste kondisie ooit op daai verhoog gegaan en die grootste prestasie nóg behaal.
“Die feit dat die Here saam met my deur alles was, het my toegelaat om ‘n tweede plek in die junior kategorie in te palm,” sê hy. Na die kompetisie het hy ook twee borge gekry – Sinden Fitness Clothing en Muscle Meals.
“Daar is geen beter gevoel as om op te staan in die oggend, in die spieël te kyk en trots te wees op wat jy sien nie. ‘n Mens voel goed as jy weet jy lyk goed,” vertel dié 20-jarige.
Sy roetine is as volg: Hy staan elke oggend 04:30 op, gaan gim toe en doen vir 30 minute kardiovaskulêre oefening. Dan werk hy van 07:00 tot 16:00, en kort daarna is hy weer in die gim vir 90 minute waar hy meestal gewigsoefeninge doen. “Ek werk dan verder aan my studies van omtrent 20:30 tot 22:30. Ek eet ses tot sewe maaltye deur die dag,” vertel hy.
Marais se toekomsplanne is nog effe vaag, maar hy weet een ding – hy wil sy IFBB Pro Card behaal en ‘n lewe daaruit maak om ‘n verskil in ander se lewens te maak. “Ek wil my passie my werk maak,” sê hy. Hy het ook vanjaar begin om bemarking deur IMM te studeer.

 

Lees ook: Badenhorst, Phil-Mar op pad na wêreldbeker

Back to top button