Local newsNews

Van Janneman tot Soebatsfontein druk Franci haar stempel af

Janneman was een van die teaterhoogtepunte van 2011 se Innibos, en nou tref Soebatsfontein die verhoog.

PRIKKELAAR: TV- en sepiefanatici kén die aktrise Franci Swanepoel deur en deur en waarskynlik bowenal vir haar rol as Toeks in Binnelanders. Vir Innibos 2018 is sy gevra om teenoor Sandra Prinsloo op te tree in die aangrypende debuutproduksie van Annemarie van der Walt se skrywersdebuut as dramaturg: Soebatsfontein. Paul Boekkooi het Franci wyd oor haar rol in talle verhoog- en TV-verwante aspekte uitgevra.

Kom ons draai die klok ter wille van konteks so byna 11 jaar terug. Dit was Binnelanders wat die volk laat buzz het – askies, gons vir die taalpuriste. Martjie Roos, TV-skrywer extraordinaire (dis nou Frans) publiseer die volgende in Tydskrif-Rapport van 11 November 2007:

“Die koeël is deur die kerk: Kitte en Toeks, een van TV se gewildste paartjies, gaan trou.
“Wel, dis nou natuurlik te sê as Kitte, ‘n geswore oujongkêrel, nie gaan staan en koue voete kry nie.

“Ai, die Toeks kan maar lekker op Kitte se kop sit, meen Franci Swanepoel, wat die rol van Toeks in M-Net se eerste Afrikaanse dramareeks Binnelanders so lekker vertolk.
“Ja-nee, die arme man kry soms maar swaar en hy kan soms tog so bang wees vir vroue, lag Jürgen Hellberg wat Kitte se skoene vierkant volstaan.

Franci Swanepoel

“Of die tweetjies uiteindelik tot trou gaan kom, sal kykers maar moet sien.” En soos daar maar altyd aljimmers gesê word: Die res is geskiedenis…”

Franci se TV-loopbaan het weliswaar merendeels by my verbygegaan, maar as verhoogaktrise het sy in elke stuk haar merk gelaat – en veral so in die speelvakke van Janneman deur die Ierse dramaturg Elain Murphy, in Afrikaans vertaal deur Hennie van Greunen.

Hy het, benewens die regie daarvan, ook die stuk van ‘n Suid-Afrikaanse konteks voorsien. Janneman was een van die teaterhoogtepunte van 2011 se Innibos.

Lees meer: ‘n Rondomtaliespel van twee anti-pole

In Soebatsfontein, ‘n tweevroustuk, speel sy weer teenoor Sandra Prinsloo, kroonjuweel onder lewende Suid-Afrikaanse aktrises. Reeds deur slegs die bykans finale teks van Annemarie van der Walt te lees, kan ‘n mens dit helder in jou geestesoog voorstel hoe die emosionele pendulum tussen skerpsinnige humor ‘n traumatiese realiteite gaan swaai.

“Nadat ons amper twee jaar lank met Janneman getoer het, sê ek vir Sandra dat ek wat sou wil gee om eendag saam met haar alleen op die verhoog te wees. Jy weet, Janneman was soos drie one-woman shows. Hier hét ons dit nou. Ons het lank gewag.”

“By Aardklop het Sonja Gouws, een van die destydse direksielede, vertel dat haar man Rudolf verklaar het dat ‘Janneman een van die beste stukke was wat hy ooit gesien het’.

“Giep van Zyl, die produksieleier, het my eers drie maande gelede van Soebatsfontein vertel. Daar was toe nog sprake van verstellings aan die toneelstuk se einde wat nog geïmplimenteer moes word, maar soos hy staan, is dit ‘n mooi stuk,” meen Franci.

Sandra Prinsloo

Ons gesels oor Soebatsfontein wat ons albei gelees het. Ek vertel haar dat Annemarie se ekonomie van uitdrukking, soos min woorde wat baie sê, maar eintlik die dramatiese ontwikkeling antisipeer, my beïndruk het. Franci meld weer dat die intrige nie oorlaai is nie: “Daar is g’n gegil en ‘n geskreeuery tussen die twee karakters nie”.

Is dit die eerste keer dat jy met Philip Rademeyer, die regisseur van Soebatsfontein werk? “Ja, ek ken hom nie, maar hy’s nog baie jonk en word reeds as een van die golden boys in die bedryf beskou. Sandra Prinsloo sou haar nie ingelaat het met iemand wat sy nie ken of vertrou nie. My hart is baie bly, want so iets kom nie ‘n tweede keer oor jou pad nie,” glo Franci.

Lees meer: INNIBOS 2018 – PROGRAM

As sodanig sien ons haar maar bittermin op die verhoog, maar sy het ‘n logiese en ook geografiese rede daarvoor: “Ons het te min teatermakers in Johannesburg. Hennie van Greunen en Deon Opperman werk met my, maar Deon is klaar met die verhoog. Hy maak sepies en rolprente. Die meeste van ons hierbo het ons siele verkoop aan TV. Ek weet nie eintlik wat ek moet sê nie.

“Wat ek eintlik wíl hê, is om in stukke te speel, dat Marthinus Basson iets hier sal kom doen, maar intussen werk ek vir kykNET, betaal ‘n duisend rand maandeliks vir my TV-subskripsie met driehonderd plus kanale… maar daar is niks; dis ‘n jammerte.”

Tog werk hierdie TV-vrou graag aan spesifieke projekte, soos Op die kassie wat sy reeds vier jaar aanbied en die geskiedenis van ons TV-verhaal. Vir haar is dié reeks ‘n plesier.

Franci is nie baie vleiend oor die vermoëns van die jongergeslagspelers nie. Sy praat uit haar eie ervaring aangesien sy die betrekking as dialoogafrigter by Getroud met rugby vul. “Hulle is net ‘n generasie jonger as ons, maar hulle weet niks van idiome en dies meer nie. Ek moet gereeld hulp van buite af kry en sommiges van hulle wat dit vir my doen, is ware troopers,” vertel sy.

Wat Soebatsfontein betref, glo Franci vas dat sy sukses omtrent verseker sal wees deurdat haar goeie vriendin Sandra Prinsloo saam met haar die verhoog deel, maar veral ook omdat die stuk self “jou in die maag slaat”.

Back to top button