BlogsOpinion

Teatergangers laat veel te wense oor

Moenie jou maniere by die huis los as jy by die teater ingaan nie.

Ek het hierdie week die voorreg gehad om Hoërskool Nelspruit se puik revue by die stadsteater te gaan kyk. Die produksie was van uitstaande gehalte en ek het aan elke solis se lippe gehang.
Ondanks die uitsonderlike kwaliteit van die produksie, was daar iets wat my as kunsteliefhebber besonder ontstel het -‘n gebrek aan teateretiket.

 
Dit was duidelik te sien aan die vrou wat skuins voor my gesit het. Sy het speletjies op haar foon gespeel terwyl haar arme bloedjie sy/haar longe op die verhoog uitdans. Boonop het sy ook nie die helderheidsvlakke op haar foon dowwer gestel nie en konsertgangers om haar gesteur.

 
Nog ‘n gebrek was te sien aan die skreeuende baba op ‘n ma se heup. As jy weet jou baba kan nie deur ‘n konsert sit nie, moet hom/haar nie bring nie. En wanneer jy die kleinding saambring en hy/sy nou wel woelig raak, verlaat ten minste die teater uit respek vir die ander teatergangers.

 

 

LEES OOK: Troues: bo blink, onder stink

 
‘n Ander taboe wat kop uitgesteek het, was verversings in die teater. Kyk, ek het geen probleem daarmee as jy ‘n bottel water of self ‘n lekkerny geniet nie, maar moet asseblief nie met jou Debonairs pizza en piekniekkombers daar instap nie. Daar is tog ‘n tyd en plek vir alles. En as daardie pakkie skyfies wat jy by die snoepwinkel gekoop het nie wil oopmaak nie, los hom. Om die heeltyd aan hom te karring en almal se aandag af te trek, gaan jou net mooi niks help nie.

 
Dan, laastens – dit is in goeie gees om vriende aan te moedig wanneer hulle optree, maar die kommentaar van die gehoor het ‘n geneigdheid om harder te wees as dit wat op die verhoog aangaan. Hou dit binne perke – Jan en San op die verhoog weet jy dink hulle is cool, dis nie nodig om dit sewe keer te gil nie.

 

 
Met die verskeidenheid opwindende en hoogstaande produksies wat deurgaans in die Laeveld aangebied word, en natuurlik die opkomende nasionale kunstefees, hoop ek dat die paar uitsonderings op die reël hierdie bogenoemde blapse sal vermy om so almal die geleentheid te gun om genot uit besonderse teaterervarings te kan put.

 

 

LEES OOK: Wat is slegter as ‘n halfgaar aartappel?

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button