EntertainmentLifestyle

Pen in my hand verwelkom André Bartlett

André Bartlett se boek is verlede Woensdag by 'n Pen in my Hand geleentheid bekend gestel.

MBOMBELA – Die boek Weerlose Weerstand dra dr. André Bartlett op aan sy kleinkinders, “In die hoop dat hulle tot geloof sal kom in ‘n kerk waar die godgegewe menswaardigheid van alle
mense erken word”.

Die boek is verlede Woensdagaand by Laevelder se Pen in my Hand-geleentheid bekend gestel en handel, in ‘n neutedop, oor die gaydebat in die NG Kerk. Dit is by A Bica-koffiewinkel gehou.

 
Die naam van die boek kom uit die gedig “Ontsnapping” deur Ernst van Heerden. “Die gedig gaan oor ‘n skilpad wat deur ‘n troebel golf omgegooi word en dan probeer om weer op sy voete te kom. Dit is simbolies van die ongelukkige verwerping wat mense deur die kerk ervaar,” verduidelik Bartlett.

Lees ook: Pen in my Hand met Juliette Whelpton

“In my jonger dae het ek Bybels versprei in die Kuvango.
“Hier het ek een aand met ‘n jongman gesels wat vir my gesê het hy is gay. Ek het hom gevra hoe hy dink God oor hom voel en hy het gesê: ‘God dink ek is ‘n hond.’ Dit was die oomblik wat ek besef het hier is groot fout.”

Bartlett was dominee by verskeie gemeentes regoor die land en is ook al 16 plus jaar deel van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke. Hy was ook by die algemene sinode van die NG Kerk in 2015 toe die kerk erkenning gegee het aan gay huwelike en dat NG dominees gay paartjies in die eg kan verbind.

“Toe hulle die besluit in 2016 herroep, het ek besef hierdie is die tipe boek wat nodig is om te skryf.”

‘n Vraag oor die Afrikaner-kerkagtergrond deur Gideon Engelbrecht het Bartlett nie gestuit nie.

“Ek erken dat ons uit ‘n eng agtergrond kom, maar paradigmaskuiwe soos hierdie gebeur nie oornag nie. Die kerk is nog nie daar nie, maar ons is op pad.”

 
Bartlett sê dat hy nie van plan is om afstand van die NG Kerk te doen nie, maar juis aan te hou baklei vir wat hy glo reg is – dat die kerk ‘n veilige hawe vir alle mense is.

“Ek gaan bly, for better or for worse.”

• Die volgende Pen in my Hand vind op 24 Mei by A Bica plaas met oudkoerantman Harald Pakendorf wat sy boek Stroomop: Herinneringe van ‘n Koerantman in die Apartheid-era bekendstel.
Die koste is R50 en sluit ‘n heerlike aansitmaal in. Bespreek by
073-329-9238.

Lees ook: Pen in my Hand: Bornman shares Lowveld’s history

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button