BlogsOpinion

Troues: bo blink, onder stink

Peperduur troues. Hoekoem doen bruidspaartjies dit aan hulleself?

Ag nee. Net nie nog ‘n troue nie.

My Facebook en Instagram nuusstroke kreun onder die gewig van iets wat ek nie met iets so betekenisvol soos die huwelik kan vereenselwig nie.

Hedendaagse troues is vir my eenvoudig te…

Te vertonerig, te blink, te geposeer, te kunsmatig en verseker te duur.

Daar is min dinge wat die verwrongendheid van ons samelewing so goed versinnebeeld soos hedendaagse troues.

Hoekom sê ek so?

Twee tot drie dekades gelede het paartjies as ‘n reël in die kerk getrou. Die onthaal is in die kerksaal langsaan gehou. Gesellige tannies en/of susters het kookkos opgedis dat die biesies bewe en gaste het behoorlik gesmul. Dit was eenvoudig en dit was mooi. Die belofte van lewenslange liefde was waaroor alles gegaan het. Dit kon ek as klein dogtertjie duidelik sien to ek my ma en pa se trouvideo tot vervelens toe gekyk het.

Dinge het verander.

Almal trou deesdae by een of ander venue. Dis gewoonlik anderkant Danville, duskant Delmas, iewers in die bos of by die see.  Ek weet nie van julle nie, maar ek verdwaal altyd op pad daarheen.

Die seremonie vind in ‘n kappelletjie plaas. Neem in ag dat iemand in baie gevalle die einste kappelletjie gebou het sodat mense teen betaling daar kan trou. Die bruid lyk vanselfsprekend pragtig. Ek sien op Google dat ‘n trourok sowat R20 000 kos. Eina!

Dan word daar foto’s geneem. Die bruidspaar verdwyn om iewers langs ‘n boom of ‘n varing te gaan poseer. ‘n Fotograaf kos glo tussen R12 000 en R15 000. Dis nou volgens my vriende wat hierdie bedrae moes uithaal en wys.

Dis byna R50 000 later en jou gaste het nog nie geëet nie. Ek Google weer. Dinge lyk goor.

My familie staan oor die 50 man sterk. Teen R500 per kop sal ek mense moet begin afskryf…

Tradisie het destyds voorgeskryf dat die vader van die bruid vir die onthaal moes betaal. Wanneer ek hedendaagse spektakeltroues en die kostes daaraan verbonde in ag neem, doen ek outomaties afstand van die verwagting dat my pa daarvoor moet opdok.

Een ding is seker: hy wat wil trou sal geld moet leen. By die bank. Teen ‘n allemintige rentekoers. En nee, ek het nog nie eers aan dinge soos ‘n vakansie of ‘n huisdeposito gedink nie.

Die hedendaagse troukultuur is belaglik.

Waarom gedy dit dan? Omdat ons dit toelaat!

Dis tyd om introspeksie te doen.

Hoeveel hedendaagse bruidspare spandeer derduisende aan trouseremonies omdat hulle wil?

Verstaan my baie mooi: as dit jou gelukkig maak om so baie geld te spandeer op een enkele aand, behoort jy dit te doen. Die waarheid is egter dat die oorgrootte meerderheid dit doen om die verkeerde redes.

Die een bruid wil meer blink as die volgende. Sara se foto’s moet tog net mooier wees as Mara s’n. Koen se tafelwyn moet deftiger wees as Poen s’n. Sarie se tafelversierings moet vir Marie s’n ore aansit. En arme Baps doen dit maar net, want sy wil nie afsteek by almal anders wat geld rondgooi nie.

Praat nou van ‘n skaapagtige tropmentaliteit wat elke lid van die trop lelik benadeel…

Ek dink dis tyd om die status quo uit te daag. As dit nie jou hartsbegeerte is om R100 000 aan ‘n troupartytjie te spandeer nie, moet dit eenvoudig nie doen nie!

Dink mooi daaroor: jy kan die geld baie beter gebruik. Gaan op ‘n lang, luilekker pasgetroude vakansie. Sit ‘n deposito neer vir ‘n motortjie of sit ‘n groot kontantbedrag neer om jou huispaaiement te laat krimp.

Wanneer jy eendag terugdink oor jou troudag, gaan jy nie die blinkers of blomme onthou nie.

Jy gaan jou beminde onthou.

Die kyk in jou ouers se oë.

Die aflê van ‘n eed.

Die vrede in jou hart.

Daarom sê ek:

Lê jou belofte van lewenslange liefde af tydens ‘n nederige, intieme seremonie wat van voorgee gestroop is. Hou ‘n piekniek of ‘n bring-en-braai.

Hou dit eenvoudig, sodat jy elke oomblik kan onthou.

Lees ook: Is bacon a basic human right?

Lees ook: Vrou sluk koeëls

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button