Local newsNews

Vrou vertel van 16 jaar se mishandeling

Sestien dae van aktivisme teen geslagsgeweld skop vandag af. Die stilte moet verbreek word.

MBOMBELA – Dit is die beste gevoel wanneer jy jouself weer in die spieël herken. So vertel Linda* jare na sy as middeljarige vrou besluit het, genoeg is genoeg, en haar emosioneel manipulerende en afknouerige man verlaat het.

Linda het vertel hoe sy, ‘n intelligente vrou met ‘n sterk persoonlikheid, ‘n ekstrovert deur en deur – gereduseer is tot oneindige skuldgevoelens, depressie en uiteindelik ‘n selfmoordpoging oor ‘n huwelik van 16 jaar.

“Dis bitter moeilik om oor te begin,” sê sy. Dis moeilik om jou twee kinders in jou man se huis te los en te loop. Om jou siel te red.

Linda het eers by ‘n vriendin, en toe in ‘n gehuurde kamertjie gewoon waar sy vir drie maande op ‘n matras geslaap het. Stukkie vir stukkie het sy weer op haar voete gekom.

“Ek kon my kinders nie saamvat nie,” sê sy. Haar oudste, toe 14, het gesê sy sal nooit weer met haar ma praat as sy loop nie. “Ek het vir haar gesê, ‘As ek bly, gaan jy nie ‘n ma hê om mee te praat nie.'” Na

16 jaar is sy is met net ‘n skaars nog loop-bare kar en haar klere uit Koos* se huis uit.

Picture staged by Hillicks Model and Talent Agency. Photo: André and Erna Meintjes

“As jy jonger is, het jy darem nog jou jeug en looks. As jy 44 is, is dit baie moeilik om voor te begin met niks.”

Sy het. Sy moes. Koos het self geen vriende gehad nie en fout gevind met al Linda s’n. Sy het begin twyfel in haar eie menseoordeel.

Lees ook: GRIP joined by community to combat violence against women

Koos het haar vriende mettertyd vervreem. Hy was so onsmaaklik, hulle het opgehou om te kom kuier. En as sy by hulle wou gaan kuier, het hy haar skuldig laat voel tot sy opgehou het.

Hy was ‘n funksionele alkoholis, maar sou, as sy per geleentheid wyn drink, haar as die alkoholis uitgekryt.

Hy het nooit die kinders gedissiplineer nie en Linda moes pa staan vir al die finansiële besluite. Dit het gevoel asof sy drie kinders het. Sy het hom verlaat, en gedink hy sal na haar kinders, sy kinders, kyk.

Koos het vir die kinders gesê hulle ma wou vry van hulle wees.

Haar dogter het ‘n jaar later gebel om te sê, sy verstaan nou, hy begin om dit met haar ook te doen. Sy moes berading kry.

“Die grootste fout wat ek in my lewe gemaak het, was om te dink hy sal na sy kinders kyk,”sê Linda. “Hy was ‘n goeie pa vir hulle toe hulle klein was. Hulle is steeds baie lief vir hom. Ek moes toe hy die hek gesluit het om my toegang tot my seun te weier, oorgeklim het om te gaan kyk.”

Haar seun was nege. Sy pa het hom totaal teen haar gedraai. “Dit maak séér,” vertel sy van die verwerping. Linda het ophou teruggaan vir nog van dieselfde van haar jong seunskind af.

Sien ook: #MeToo: Journalist speaks out on sexual harassment

Sy het die kerk laat weet dat sy haar kinders moes agterlaat. Hulle het geen ondersteuning gebied nie, en haar eerder veroordeel. “Hulle het eenkeer gebel in al die jare. Ek het later uitgevind hulle was te besig om vir my te bid.”

Almal het liewe, sagte Koos se verhale van hoe hy en sy kinders Linda se slagoffers was, geglo.

“Hy het net geweet hoe om my knoppies te druk om ‘n reaksie te ontlok, en het dan die situasie só gedraai, met net die regte hoeveelheid waarheid daarin, en ontneem van alle konteks, om hom soos die onskuldige te laat lyk.

“Ek moes my lewe lank hoor hoe gelukkig ek moet wees met so ‘n dierbare, liefdevolle man. Hy het mense net gewys wat hy wou.”

Koos is intussen dood en sy en haar seun is besig om versoen te raak. Sy en haar dogter is al jare baie na aan mekaar.

Linda se boodskap aan ander vroue in so ‘n situasie is: “Dit sal die moeilikste ding wees wat jy al ooit gedoen het, maar jy is dit aan jouself en jou kinders verskuldig om jou eie siel te red.

“Moenie bly omdat jy bang is om alleen te wees nie. Die beloning is soeter as wat jy ooit kan droom.”

• Kontak GRIP vir hulp by 083-310-1321.

* Skuilname

Lees ook: There are no consequences for perpetrators

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button