Local newsNews

-55°C? Dis sy tipe weer!

De Bruyn Joubert toer die wêreld per fiets. Sy nuwe uitdaging sal jou laat bibber.

WITRIVIER – Om ‘n professionele avonturier te wees, moet jy hare op jou tande hê, adrenalien in jou are, en warm klere.

De Bruyn Joubert (31), wat sedert 2013, vingeralleen 40 000 “De Bruyn-aangedrewe”-kilometers per fiets afgelê het, het onlangs van ‘n tog teruggekeer.Tydens ‘n besoek aan sy familie in Witrivier, het hy met Laevelder oor sy loopbaan as avontuurlustige, wat met die grense van oorlewing eksperimenteer, gesels.

Hy het regoor Australië, Europa, Asië en Noord-Amerika fietsgetrap en temperature kouer as -40°C getrotseer.

Hy het in Januarie 2013 met ‘n vyf jaar uitdaging, “Around 7 Continents” afgeskop. Eers het hy in 2014 Australië met ‘n fiets platgery en Europa het gevolg. Hy het in 2015 Asië, Noord-Amerika, Siberië en Mongolië alleen aangedurf. Die kwik het onder -40°C gedraai.

De Bruyn se tent, fiets en al sy besittings was al wit van die sneeu.
De Bruyn se tent, fiets en al sy besittings was al wit van die sneeu.

De Bruyn wil sowaar teruggaan vir nog. Sy “Coldest Triangle”-uitdaging sal hom drie maande lank na die hartjie van Siberië toe neem waar hy 2 000 kilometers met sy dikwielfiets gaan aflê. “Op my eie, sonder enige ondersteuning,” bevestig hy.

“Temperature daar daal tot -55°C,” sê hy.

Dis verstommend dat hy nog nie doodgevries het nie Hy trek sy skouers op en lag so effens. “As dinge -10°C bereik, dan raak dit nogal koud,” erken hy. Hiervoor dra De Bruyn spesiale klere.

“In teenstelling met wat ‘n mens sou verwag, wil jy vermy om té warm te kry wanneer dit so koud is,” sê hy. “As jy sweet en jou sweet vries, het jy ‘n probleem.”

Die klere wat De Bruyn tydens sy ekspedisies dra, is só ontwerp dat dit sweet van sy lyf af weghou. Hy het al dieselfde onderste laag klere vir 40 dae lank gedra. Dit kon nie anders vanweë die uiterse koue en die aard van sy fisiese aktiwiteite nie.

“Ek was darem alleen, niemand kon my ruik nie,” sê hy met ‘n laggie.

Alhoewel hy vir groot dele van 2015 deur sneeu omring was, was dit ‘n storie om drinkwater en water vir kos in die hande te kry. “Tydens so ‘n ekspedisie sit ek twee uur soggens en saans en water maak,” sê hy.

Dit doen hy deur gevriesde riviere se ys los te kap of sneeu bymekaar te krap en dit daaarna met ‘n klein toestelletjie wat soos ‘n kampstofie werk, te smelt. “Dis moeilik, want vloeistof vries weer vinnig in daardie koue,” sê hy.

De Bruyn moet ‘n magdom kalorieë inneem om sy liggaam aan die gang te hou. “Ek verbrand sowat 8 000 tot 10 000 kalorieë per dag in die winter.”

Wanneer hy fietsry, hou voedsel wat gevries en gedroog is, sodat dit kompak verpak kan word, hom aan die gang. “Ek moet baie olies, neute en goed soos sjokolade eet.” Noudat hy vir ‘n rukkie in Suid-Afrika is, sit hy gewig aan ter voorbereiding van sy volgende toer. “Dis maklik met al die vleis en bier hier rond. Ek’t nie voorheen besef hoe baie ons Suid-Afrikaners kan drink nie!” Hy voeg by dat die Engelse en Russe ook lekker kuier met ‘n drankie in die hand.

Wat ander oorsese mense betref, het die Asiatiese hartlikheid hom die meeste beïndruk. “Hulle is ongelooflike mense. My ervaring was dat die Derde Wêreldse mense jou sommer innooi en soveel gee, terwyl meer gegoedes dit nie sommer sal doen nie.”

De Bruyn het die eenvoud van die Asiërs se manier van leef geniet en waardeer. “Toe ek daarna in Amerika in ‘n winkel inloop, was ek skoon deurmekaar. In Asië was daar ‘n blik boontjies. Jy’t dit geëet of jy het nie. In Amerika moes ek tussen 10 soorte blikke boontjies kies. Sjoe!” sê hy met groot oë.

Hy het darem heerlik in China en Meksiko gesmul. “Die Chinese eet lekker, maar minder lekker as die Meksikane.”

Die gedagte aan ‘n lekker steak na ‘n lang tyd in die gramadoelas, ontlok ‘n groot glimlag. “Dit is flippen lekker as jy weer lekker kos proe!”

Om ‘n avonturier van beroep te wees, is al van skooldae af sy droom. Die bemarkings- en entrepreneurskaps-graad wat hy aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het, kom nou handig te pas.

De Bruyn se werksdag begin nie wanneer hy soggens sy dikwielfiets vir die eerste keer deur die sneeu trap nie. Dit hou ook nie op wanneer hy saans sy tentjie opslaan nie. Hy skryf tussen-in aan sy blogs, opdateer sy webblad, kommunikeer met aanhangers en sy besigheidskontakte regoor die wêreld. Hy praktiseer ook as motiveringspreker en reël besigheidsreise vir maatskappye.

Hy deel graag die lesse wat hy tydens sy avonture leer en sluit die onderhoud met een af.

De Bruyn verkyk hom aan die noorderligte.
De Bruyn verkyk hom aan die noorderligte.

“Dit is maklik om moed op te gee, maar waarom sal jy tou opgooi as jy al so ver gekom het? Druk deur wanneer die hindernisse opduik. Jy sal sien dat tou opgooi in die eerste plek nie ‘n opsie was nie.”

Back to top button