FeaturesInnibos NuusLifestyle

Innibos: Toe gee Dana amper vir Frank `n maagseer

Inspirasie vir "Hond" het van meer as vierhonderd mense gekom.

“Woef”. Só antwoord Dana Snyman deesdae die foon as Frank Opperman bel.

Vandag kan Opperman daaroor lag, maar aanvanklik het hy nie gedink dis snaaks nie. Want Snyman het te lank na sy sin geskryf aan sy nuwe eenmanvertoning, Hond, wat by Innibos debuteer. Volgens Snyman was dit een van die redes hoekom Opperman in `n stadium vermoed het hy het `n maagseer. Hy het selfs “`n kameratjie in die hospitaal gaan sluk”, wat gelukkig gewys het daar is geen maagseer nie.

Snyman erken hy het gesukkel om die stuk, wat handel oor `n man wie se bejaarde hond uitgesit moet word, klaar te skryf. Dis hoekom hy in April by sy byna 6 000 Facebook-vriende om hulp aangeklop het. “Help my asseblief met hondestories,” het hy gevra.

Die reaksie was oorweldigend. Hy het by vier honderd ophou tel, sê Snyman.

“Ek praat van meer as vier honderd mense wat lang vertellings oor hul belewenis van die verlies van `n hond vir my gestuur het. Honde is engele, en as jou engel die dag finaal wegvlieg, is dit traumaties.”

Die bydraes het gehelp. Snyman sê toe die woorde eers begin vloei het, het hy die stuk in sowat twee weke klaar geskryf. Opperman speel in Hond `n man in `n wankelrige huwelik wie se beste vriend, sy hond, oud en siek is. Hy worstel met al die vraagstukke van iemand wie se geliefde troeteldier aan die einde van sy of haar lewenspad is.

Dit is die vierde eenmanvertoning wat Snyman vir Opperman geskryf het. Voriges sluit in Die uwe Pottie Potgieter en Die Klaagliedere van ds. Tienie Benade.

Waaraan het hulle die wenresep te danke?

“Dalk is Frank die broer wat ek nooit gehad het nie. Ons dink baie dieselfde oor dinge. Lag vir dieselfde simpel goed. Hy sê hy huil ook deesdae maklik. `n Veiligheidswag vertel jou van sy siek kind, dan begin jy tjank. Ek is dieselfde. Ons word oud.

“Ons hou nie juis meer paartie nie, ek en hy. Ons sit nou saam en wonder oor dinge. Die Here het Frank oor my pad gestuur, glo ek,” sê Snyman.

• Hond is op die volgende dae en tye by Laerskool Bergland op die planke: Woensdag 29 Junie om 09:00, Donderdag 30 Junie om 18:00, Vrydag 1 Julie om 09:00 en Saterdag 2 Julie om 13:00. Kliek hier vir die volledige produksieprogram.

Back to top button