FeaturesInnibos NuusLifestyleLocal newsNews

Innibos: Vrou met hartkwaal droom groot en wen gróót

Die Here sien ons nood. Dis hoekom ek gewen het

MBOMBELA – Die skepper van die rok waarin Sandra du Plessis Vrydagaand tydens Innibos se programbekendstelling by Hoërskool Bergvlam gepronk het, kan nie naaldwerk doen “om haar lewe te red nie”. Daar skort egter niks met Desiré van der Merwe se kreatiwiteit nie en saam was hulle die waardige wenners van R10 000 as deel van Innibos se #droomgroot-tema hierdie jaar.

Lees ook: Droom gróót tydens hierdie jaar se Innibos

“Die Here sien ons nood. Dis hoekom ek gewen het,” verduidelik Desiré. Dié skraal, aantreklike blondekopvrou lyk op die oog af gesond. Tog, toe Sandra met haar rok Vrydagaand as die wenner aangekondig is en sy en Desiré op die verhoog moes klim om hulle prys te ontvang, was dit duidelik dat sy siek is. Desiré kon nie eens die trappies na bo uitklim nie.

Dis eintlik ‘n wonderwerk dat dié 35-jarige vrou leef. Sy het op 12 Januarie 2012 ‘n massiewe hartaanval gehad. Sy is per helikopter na Steve Biko Hospitaal in Gauteng geneem, waar sy ‘n maand in die intensiewesorgeenheid deurgebring het. Toe sy daar bykom, het sy net vyf persent hartfunksie gehad.

“Wat vandag al ses persent is. So die Here is goed vir my,” glimlag Desiré. Sy was voorheen ‘n administratiewe beampte, maar moes na die hartaanval medies ongeskik verklaar word. Haar man, Boetie van der Merwe, is sedertdien die enigste broodwinner en dit gaan finansieel swaar met die egpaar.

Desiré en Sandra deel die R10 000 en die Van der Merwes koop kos en ander noodsaaklikhede met hulle deel. Aangesien Desiré nie meer kan werk nie, moes sy ander maniere kry om haarself bedags besig te hou. “Ek het aanvanklik probeer tuin maak, maar dit was uitputtend en ek het flou geval.”

Toe sy op Facebook sien dat Innibos R10 000 weggee vir die beste kostuum by sy programbekendstelling, het sy reeds die idee van die swierige papierrok in haar kop gehad. “Ek het geweet dit gaan ‘n balrok met ‘n baadjie wees, want dis winter en Sandra moes nie koud kry nie. Ek het die idee met haar gedeel en haar gevra om asseblief die rok te dra,” beduie Desiré.

Sandra du Plessis.
Sandra du Plessis.

Sandra knik instemmend as Dé – soos sy Desiré noem – gesels. Dié twee ken mekaar reeds sedert 2006, maar het eers in 2012 na Desiré se hartaanval vriende geword en is vandag beste vriendinne.

Hulle het op Facebook vir koerante gevra en Jenny Louw het ‘n hele sak vol Laevelders geskenk. “Die hele rok is van Laevelders gemaak, maar die moue bestaan wel uit Game se advertensies,” vertel Desiré. Sy het ‘n week voor Innibos se programbekendstelling met haar projek begin. Boetie het vir haar die hoepel uit draad geprakseer.

Lees ook: Twee Laeveldse rock-bands Innibos RockRumoer-finaliste

Desiré het swartsakke daaroor geplak en toe het die groot werk begin. Sy moes die hoop koerante in die regte grootte vou en sigsag oor die swartsakke vleg. Dit is met rolle en rolle deurskynende kleefband vasgeplak.

Sy het ‘n ou baadjie gevat en die koerante daarop geplak. “Die baadjie se moue was die moeilikste. Dit moes buigbaar en beweeglik bly nadat die koerantpapier opgeplak is. Ek het gaan raad vra by ‘n vriendin wat wel naaldwerk doen. Sy het my ‘n bietjie meer van patrone vertel en toe raad gegee oor hoe om die papier op die moue te plak.”

Die knopies het sy van kraletjies gemaak wat sy verlede jaar gekoop het om juwele mee te maak. “Ek het die hakies wat ek aan oorbelle gesit het, gebruik om die kraletjies aan die baadjie vas te sit en lint daardeur geryg. Ek is mal oor lint en die effek wat dit skep.”

Lees ook: Innibos doen dit wéér

Sy het ook ‘n blom en verskeie waaiers gevou waarvan sy die punte met pers sproeiverf gespuit en aan die rok vasgemaak het om dit af te rond. Teen Vrydag 13:00 was die rok klaar. Dit is net so in Sandra-hulle se rooi Mahindra gelaai en hulle is feesterrein toe. Sandra kon dit eers daar aantrek, omdat sy nie in die rok kon sit nie. “Ek het vir haar gesê sy moet klaar piepie, want as sy eers in die rok is, kan sy nie weer daar uit nie,” lag Desiré.

Sy het tydens verlede jaar se programbekendstelling óók gewen. Die tema van Innibos was toe “fees met hart” en feesgangers moes selfies van hoe hulle dié tema uitbeeld, instuur. Sy het ‘n hart op ‘n rooi T-hemp vir haar man geteken en vir hom ‘n rooi Kersvader-hoed opgesit.

Sy was toe siek met griep en kon nie eens saam met hom na die konsert toe gaan nie. Sy was egter verheug toe hy haar van die feesterrein af bel en opgewonde vertel: “Liefie, ons het gewen.” Hulle het toe onder meer ‘n ysmaker gewen.

“Dis wat so lekker is van Innibos. Ander feeste soos KKNK betrek feesgangers nie só nie en ek wil hulle aanmoedig om sulke inisiatiewe aan te bied.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button