AnimalsEnvironmentalHard newsLocal newsNewsNews

Nelspruit DBV diep in die skuld; voorsitter bedank

Een van die redes hoekom Louie Amorin, gewese voorsitter van die Nelspruit DBV, bedank het is die feit dat daar volgens hom,geen meer vertroue tussen hom en die hoofkantoor van die DBV is nie.

MBOMBELA – Die voorsitter van die plaaslike DBV het Woensdag die nasionale hoofkantoor ingelig dat hy “met teësin” bedank.

Dit volg nadat Laevelder net die vorige dag berig het oor die krisis by dié tak en dat 80 van die diere van kant gemaak moes word.

Van die redes wat mnr. Louie Amorim vir sy bedanking aanvoer, is onder meer “verskeie gebeure van die afgelope maand wat daartoe bygedra het dat daar geen vertroue meer tussen my en die hoofkantoor is nie”.

Hy plaas die blaam vir die swak finansiële toestand waarin die plaaslike tak hom bevind, voor die deur van die Lotto wat nog nie weer sedert 2012 ‘n betaling gemaak het nie, fondsinsamelingprojekte wat nie na wense gewerk het nie, asook die feit dat hulle nog nie vanjaar deur die munisipaliteit betaal is nie.

Hy voel ook dat die skeiding van die Nelspruit en Witrivier-takke, en die gevolglike finansiële las, tot die beroerde bankbalans bygedra het.

Mnr. Jaco Pieterse van die nasionale hoofkantoor se skakeleenheid sê dat Amorim se bewerings dat die konsultasieproses onvoldoende was en dat die benarde finansiële posisie deur die skeiding van die twee takke veroorsaak is, glad nie waar is nie.

“Daar was voortdurende skakeling en vergaderings rondom die skeiding. Die ooreenkomste wat aangegaan is, is egter nie deur Nelspruit DBV nagekom nie. Die hoofkantoor is tevrede met hoe die Witrivier-tak op hulle eie voete staan asook met die harde werk om fondse in te samel. Die hoofkantoor ondersteun hulle deur hulle inspekteur te betaal,” sê Pieterse.

IMG_0876 (Small)
Louie Amorim

Hy het bevestig dat hoofkantoor in deurlopende kontak met die bestuurder van die Nelspruit DBV is en dat die diere in hulle sorg “goed doen”.

“Die Nelspruit DBV is in hierdie slegte posisie omdat hulle nie fondse ingesamel het nie. Geen tak kan oorleef sonder om deurlopende fondsinsamelings te doen nie,” sê Pieterse.

Estelle de Villiers, voorsitter van die Witrivier DBV, stem saam. “Vyf jaar gelede – voor Amorim betrokke geraak het – was dit ‘goed’ bestuur. Die probleem het ontstaan omdat fondsinsameling afgeskeep is.”

Me. Liezl Barnardo, een van Mbombela se voorste diereaktiviste, glo dat die feit dat die Nelspruit DBV nie meer betaling vra vir diere wat aangeneem word nie, gedeeltelik bydra tot die krisis.

Al wat dit kos wanneer ‘n dier deesdae aangeneem word, is ‘n direkte betaling aan die veearts wat die sterilisasie doen.

Dié betalings is ingestel omdat die DBV by verskeie veeartse diep in die skuld is en nie meer self vir die sterilisasies kan betaal nie.

“DBV Nelspruit gaan onder omdat hulle by verskeie geleenthede nie hande wou neem met diegene in die gemeenskap wat uitgereik het en wou help nie. Praktiese planne is verskeie kere van die hand gewys. Hulle is hul eie grootste vyande.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button