Business and FinanceNews

Opgewondenheid oor Deeghuys sy deure oopmaak

Diegene wat Deeghuys ken, is kennelik dol daaroor en die produkte verkoop hulself.

MBOMBELA – Toe mnr. Louis en me. René Slabbert, eienaars van die pas-geopende Deeghuys-winkel by Crossing-sentrum sakeopsies begin oorweeg het, het hulle twee dinge gesoek: Die onderneming moes gesinvriendelik wees, en die produk moes van die beste kwaliteit wees.

Die resultaat is Deeghuys. Soos die naam aandui bied hulle klaargemaakte gevriesde gebak wat jy bloot gaar bak. Hulle kosreekse brei ook voortdurend uit en dit sluit al maaltye en selfs roomys in.

Die Slabberts kon nie voorsien hoe besig die winkel Vrydag 1 April met die opening sou wees nie. Almal wat Deeghuys ken, is kennelik dol daaroor. Die produkte verkoop hulself.

“Dis so gerieflik,” verduidelik René. “Jy haal net iets uit die vrieskas uit en bak dit gou, en alles is vrek lekker.”

Dit bied iets vir almal – dink maar aan die “braai pie” en die gerief vir ‘n juffrou as kinders kan bak en brou met klaargemaakte deeg.

Trappers vestig nuwe visie by uitgebreide Crossing-sentrum

Produkontwikkelaar me. Marinda Engelbrecht het die opening bygewoon. Kos is haar passie. “As ek ‘n rou stuk kos sien, dink ek dadelik wat ek alles daarmee kan maak. Ek raak so opgewonde oor kos, ek slaap nie,” sê sy.

“Ek lief teksture. Dis baie sensueel – jy kan dit ruik en proe en daaraan vat. Dis sintuiglik.”

Vir Engelbrecht is kwaliteit ‘n top-prioriteit. “Ons huiskosreeks is kos soos jou ma maak – regte, egte tuisgemaakte kos.” Sy is besig om ‘n bykosreeks te ontwikkel, asook nuwe pasteie – met slegs skoon vleis, geen soja of senings nie.

En ja, hulle werk aan ‘n reeks vir mense wat die Banting-dieët volg – produkte gemaak van amandelmeel.

“Kos is baie opreg,” vertel sy verder. “Brood is ‘n simbool van lewe. Dis soos ‘n trooskombersie. Wat was as kind in jou kosblik? ‘n Broodjie van jou ma. Dink net hoe die reuk van iets varsgebak jou beter laat voel. Dit voer nie net die maag nie, dit is ook goed vir die siel.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Back to top button