EnvironmentalHard newsLocal newsNewsNewsSANParks

Almal werk saam om leeuwelpies te red

Eers was daar die gerug van die bergfietsryer wat Nasionale Krugerwildtuin-leeus naby Komatipoort in 'n boord gesien het, maar dit was nie feitelik reg nie het lesers laat weet. Toe het Laevelder die waarheid gaan soek en die aandoenlike verhaal gehoor van 'n veldwagter en sy span, boere en die gemeenskap wat saamgespan het om 'n leeu-gesin ruimte te gee om hul welpies te baar voordat hulle na die NKW teruggeneem is.

KOMATIPOORT – Wanneer ‘n veldwagter van die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) mnr. Neels van Wyk van Krokodilbrug-veldwagterspos 42 oor leeus begin praat, is daar ‘n spesiale toon aan sy stem. Die man kén leeus, gee om vir hulle en kan sy man teen ‘n trop staan.
Dis geen wonder dat hy sowat ses weke gelede ‘n spesiale poging aangewend het om ‘n dragtige leeuwyfie ongestoord buite die NKW geboorte te laat gee nie. Daarna het hy met die gemeenskap, Mpumalanga Toerisme en Parkeagentskap (MTPA) en boere in die omgewing hande gevat om die wyfie en die welpies teen die moontlike aanslae van buffels te red.
“Leeus wil hul welpies wegsteek as daar buffels is. Laasgenoemde maak maklik die welpies dood. Dis ‘n wonder as hulle oorleef as dié diere in die omtrek is.”
Toe die Krokodilrivier ‘n paar weke gelede amper opgedroog het, het die buffeltroppe pal in die rivier gewei. Hulle het riete gevreet omdat dit al was wat nog groen was met die heersende droogte.
Dit het natuurlik leeus gelok – drie troppe van hulle wat bestaan uit 23, 17 en sewe lede. Terwyl die leeus meedoënloos onder die buffels ingevaar het en ‘n hele paar platgetrek het om aan te smul, was daar van die mannetjies wat al hoe meer geïntimideer gevoel het. Hulle het aan die rivierwalle aan die suidelike oewer aan die grensdraad se kant begin skuiling soek.
“Een van hierdie troppe was die Vurhami-groep wat vir boomklim en in bome slaap bekend is,” sê Van Wyk.photo
As gevolg van driffies voor en na die reën, was dit maklik vir van die leeus om onder die grensdraad op die wal deur te glip en met die stofpad na ‘n nabye bamboesbos 20 meter van die draad af op die plaas Vergenoeg te stap. Hierdie digte bos sou twee leeugesinne se toevlugsoord teen die buffels word.
‘n Leeumannetjie en ‘n wyfie het hier skuiling gevind en op die diep blaarvloer tot ruste gekom. Sy het geboorte geskenk aan vier welpies. In hulle tydelike kamp het sy die werpsel veilig in die blare versteek, wetende hoe maklik buffels hulle vermorsel.
“Min dinge kom by die veggees van ‘n leeuwyfie wanneer haar welpies bedreig word,” sê Van Wyk.
Soos leeus nou maar doen, het hulle af en toe sku uitgedraf in die omgewing, maar selde verder as 200 tot 300 meter duskant die grensdraad rondgestap.
Na konsultasie met die MTPA is daar besluit om die leeus met pyle te verdoof en na die NKW terug te neem. Hulle is ‘n paar kilometer van die grensdraad losgelaat. Ongelukkig het die wyfie hier die welpies verwerp en ‘n paar dae later is hulle dood in die veld gevind.
Drie tot vier weke later was daar weer ‘n dragtige wyfie en mannetjie wat die beskutte bamboesbos as kraamhospitaal gebruik het. Drie welpies is gebore en weer in die diep blarekombers weggesteek. Van Wyk het die Vergenoeg-plaasbestuurder, mnr. Dolf Mulder vir ‘n guns gevra.

bamboesleeus rondle (Small)
“Gee ons so ‘n week of wat kans voor ons hulle terugplaas. As ons gelukkig is, sal die wyfie hulle sommer self terugdra,” het hy gesê en onderneem om self ‘n ogie oor die leeus in die boord te hou sodat plaaswerkers veilig sou wees en nie in hulle vasloop nie.
Plaasbewoners is gevolglik gevra om versigtig te wees en hulle werkers te waarsku.

neels en leeu (2)“Die twee mannetjies en twee wyfies wat in dié stadium uit was, was so mak in die boorde dat hulle bloot weggestap het as jy hande klap,” sê Van Wyk.
Intussen het Mulder en die Skukuza-staatsveeartsdepartement materiaal geskenk sodat die heining herstel kon word. Ekstra grond is ook by die driffies ingery. Die leeus in die bamboesbos het die welpies versorg en hulle rusplek goed gebruik. “Hulle het daar floreer,” sê Van Wyk.
Na 10 dae is die wyfie met welpies en al op eie stoom terug park toe. Die res van die gesin, twee groot mannetjies en twee wyfies, is met hulp van MTPA-veeartse met pyltjies verdoof en sewe kilometer ver binne die park losgelaat. Van ‘n gewisse dood gered, was die gesin op pad om weer hul plek in die NKW en in die trop te vind.
“Die huidige droogte is nog nie gebreek nie en die riviervloei is nog swak. Ons sal nog die Vurhami-leeus dophou,” sê van Wyk.
Dié voorval op plaaslike bodem het net voor die bohaai rondom Sylvester, die rondloperleeu van die Karoo gebeur en plaaslik ook opspraak gewek.
“Hulle was nie probleemleeus wat van kant gemaak moes word nie. Almal wou hulle ‘n kans gee. Hulle is ‘n bekende trop by Krokodilbrug teen die rivier. Daar is ‘n groot verskil tussen ‘n rondloperleeu en ‘n plaaslike een. Laasgenoemde wil moontlik net van ‘n geleentheid in sy area gebruik maak om op ‘n veilige plek geboorte te skenk. ‘n Rondloperleeu soek ‘n nuwe area en rig skade aan.”
Die buurmanskap tussen veldwagters, boere en die gemeenskap om hande te vat om die welpies ‘n oorlewingskans te bied, is vir Van Wyk ‘n riem onder die hart.
“Ek het in 20 jaar nog nie soveel samewerking van ‘n gemeenskap gesien om leeus ‘n billike kans te gee nie. Dit laat my goed voel dat ons almal so verstandig kon optree.”

Foto’s: Neels van Wyk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Back to top button