News

Jordan het jou hulp nodig

Hy kan nie hoor of sien nie, kan nie sy eie nek regop hou, kruip of loop nie. Hy kan nie self eet of drink nie en verstik dikwels aan sy eie speeksel.

MBOMBELA – Die ma van ‘n 27 maand oue serebraalverlamde seuntjie is radeloos omdat hulle nie meer sy mediese behandeling kan bekostig nie.

Me. Teresa Coertzen se seuntjie, Jordan, kan nie hoor of sien nie, kan nie sy eie nek regop hou, kruip of loop nie. Hy kan nie self eet of drink nie en verstik dikwels aan sy eie speeksel. Hy kry tans voeding deur middel van ‘n sogenaamde Mickey Feeding Tube.

Jordan se eerste reeks van drie bloedplaatjie-oortappings het gister reeds begin. Hy moet nou nog twee kry voordat hy stemseloorplantings in Desember sal ondergaan. Hy moet twee heupoperasies, twee gehoorapparate of ‘n kogleêre inplanting kry. Laasgenoemde hang af van ‘n derde gehoortoets wat op 24 November sal plaasvind.

Shonaquip, ‘n firma wat toerusting en “buggies” vervaardig, wag egter vir ‘n betaling van R15 000 voordat dit ‘n rolstoel of sogenaamde Madiba Buggy kan maak wat by sy postuur pas en waarmee hy maklik oor die weg kan kom. Dit alles kos derduisende rande, wat die gesin nie het nie.

Coertzen werk nie meer nie weens Jordan se behoefte aan 24-uur-versorging.  Hulle benodig hulp in die vorm van skenkings of vervoer. Coertzen moet tans vir vervoer reël, wanneer sy hom na sy dokter of elders vir terapie moet neem.

As jy of jou onderneming op enige manier kan help, skakel Stefan de Villiers by 013-754-1600.

Jy kan ook help deur jou aanbod te maak op vier kaartjies na die Scooby-Doo Live Mysteries-vertoning by Carnival City, wat op 5 Desember plaasvind. Kaartjies gaan aan die hoogste bieër en die opbrengs word aan Jordan se ouers geskenk.

Scooby (Large)
Stuur jou aanbod na stefan@lowvelder.co.za.

 

Back to top button