AnimalsAnimalsEnvironmentalLocal newsNewsNews

Omgee-storie het ‘n baie gelukkige einde

"Ek het 'n ontsaglike liefde vir honde en daar is niks wat my hart so aanraak soos 'n hond wat hulp nodig het nie. Ek het vir 20 jaar in die Krugerwildtuin gebly en daar kon ons slegs perde, hoenderhenne en hamsters aanhou".

MBOMBELA – Venus, oftewel, Lili, soos wat sy deesdae bekend staan, is buite gevaar en sterk deesdae by haar nuwe peetouers, Ulrike Matthysen en Abri Grobler, aan.

Lili het bekend geword toe Laevelder verlede week van die negejarige Keira Jacobs berig het wat al haar “tandemuis”-geld aan Pro-Life geskenk het om te help betaal vir ‘n dringende operasie wat dié hond benodig het.

En alhoewel Lili intussen ‘n ander naam gekry het, is sy ‘n bekende gesig vir Ulrike. Sy het Lili en haar boetie gered nadat sy by ‘n vriendin gehoor het dat mense, wat na bewering reeds van dieremishandeling aangekla is, die twee honde probeer verkoop het.

Lili sterk tans by haar nuwe pleegouers, Ulrike Matthysen en Abri Grobler, aan. Sy was aanvanklik eers Venus gedoop.
Lili sterk tans by haar nuwe pleegouers, Ulrike Matthysen en Abri Grobler, aan. Sy was aanvanklik eers Venus gedoop.

“Ek, Liezel Barnardo van Lost and Found Pets Lowveld en Jaco Klopper van Mpumalanga Animal Crime Watch en sy vriendin het onmiddellik in die kar gespring en hulle gaan soek. Ons het van plaas tot plaas gery en hulle in haglike omstandighede gekry.”

Volgens Ulrike was beide erg ontwater en het bosluiskoors gehad. Ulrike en haar span het hulle na West Acres Dierehospitaal gehaas waar hulle behandel is. “Ons het vir Karin Erasmus van Pro-Life gekontak en sy het ingestem dat ons die twee daarheen kon neem,” verduidelik Ulrike.

En alhoewel sy nog altyd ‘n yslike omgeehart vir diere het, sê sy dat die twee hondekinders vandag die rede vir haar betrokkenheid by Pro-Life is.

Die besluit om Lili onder haar vlerk te neem na haar operasie, was dus nie ‘n té groot verrassing nie. Maar, sê sy, sy voel sleg dat Lili se boetie, Caleb, nog nie ‘n tuiste het nie.

“Ek het ‘n ontsaglike liefde vir honde en daar is niks wat my hart so aanraak soos ‘n hond wat hulp nodig het nie. Ek het vir 20 jaar in die Krugerwildtuin gebly en daar kon ons slegs perde, hoenderhenne en hamsters aanhou”, vertel sy.

Lili sterk tans by haar nuwe pleegouers, Ulrike Matthysen en Abri Grobler aan.
Lili sterk tans by haar nuwe pleegouers, Ulrike Matthysen en Abri Grobler aan.

Sestien jaar gelede toe sy hierheen verhuis het, het dit egter verander en Ulrike het onmiddellik betrokke geraak by die red van honde in nood.

Vandag het sy reeds agt honde en selfs ‘n klein rehabilitasiesentrum vir boswaaierstertmuise, marmotte en hase.

“Ons is gedurig besig om iets te rehabiliteer wat siek is of wat seergekry het,” lag sy.

Intussen sê Ulrike sterk Lili goed aan na haar operasie. Dit is gedoen om haar kolon aan haar binneste te heg om te verhoed dat ‘n anale prolapse weer sou plaasvind. “Haar steke is Maandag uitgehaal en sy pas tans aan by ‘n nuwe dieet.”

 

Back to top button