Hard newsLocal newsNewsNews

Afbeen marmoset ‘n uitdaging vir veeartse

Die jong marmoset-apie se been was op só manier gebreek dat veeartse gesukkel het om dit aan mekaar te heg.

MBOMBELA – Van Wijkstraat Dierehospitaal moes ‘n delikate operasie uitvoer toe Storm, ‘n jong klouapie (marmoset) Woensdagoggend met ‘n gebreekte been opgeneem is.

Storm se linkerfemur het gebreek toe ‘n hoender haar gepik het. Veeartse glo dat die been as gevolg van ‘n hewige kalsiumtekort so maklik gebreek het. Drs. Donnie Engelbrecht en Christo Nortjé het die operasie uitgevoer. Nortjé het aan Laevelder vertel dat dit ook só gebreek het dat hulle bekommerd is dat dit nie sal genees nie.

Die been het stomp afgebreek, wat beteken ons moet eintlik ‘n plaat en skroewe gebruik om die been te heg.

“Die probleem is dat daar nie sulke klein plate en skroewe bestaan nie en dit sal te gevaarlik wees om gate in te boor. Bloedvate in die been kan só erg beskadig word, dat genesing amper onmoontlik sal wees. Daarom moes ons ‘n pen insit om die been te stut, maar die pen sal nie verhoed dat die twee dele daarvan bo-op mekaar roteer nie.”

Die veeartse hou haar by die hospitaal om te sien of die operasie suksesvol was. “Ons het nou vir Storm op kalsiumbehandeling geplaas, waarop sy vir ses weke sal moet bly. Ons sal nou maar net moet wag en kyk of die been ten volle gaan vorm.”

Storm se gebreekte been en gebrekkige beendigtheid is egter nie haar eienares, me. Belindy van Rooyen, se enigste probleem nie. Van Rooyen bestuur ook die Esperado-kinderhuis op Barberton en sukkel glo om die veeartsrekening van R3 000 te betaal. Van Wijkstraat Dierehospitaal het reeds die rekening, wat aanvanklik R5 000 was, met R2 000 verminder.

“Ons het op die oomblik 20 weeskinders waarna ons kyk en kry net twee keer per jaar ‘n skenking uit Amerika. Verder oorleef ons op my eie en my ma se geld,” het sy gesê.

Buiten die koste van die operasie, sal Storm weer twee, vier en ses weke ná die operasie ondersoek moet word. Sy sal ook weer narkose moet ontvang om die pen uit haar been te verwyder.

 

Lees soortgelyke stories van Van Wijkstraat dierehospitaal hier:

Spesiale eekhorinkie weer terug op die been

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button