Hard newsLocal newsNewsNews

Man ontsnap naelskraap uit die kloue van luiperd

Die luiperd se byt was só sterk, het Mkhonto gesê, dat hy 'n kierie in die dier se bek moes druk om homself uit sy kake te bevry. "Ek het op die kierie getrap om sy bek oop te kry. Toe hy daar los, gryp hy my been."

SABIE – ‘n Inwoner van Driekop naby Pilgrim’s Rest is al vir ‘n week in die Sabie Hospitaal nadat ‘n luiperd hom op 25 Junie naby sy tuisdorp aangeval het. Dit was die eerste van twee luiperdaanvalle binne ‘n week in die provinsie.

Mnr. Eliot Mkhonto (56) het sy vriend rondom 18:30 gehelp om dié se beeste op ‘n berg te gaan haal nadat hulle van die trop afgedwaal het. “Ons het nadergekom en gehoor hoe die beeste bulk,” het hy aan Laevelder vertel. “Die twee honde wat saam met ons was, het ook baie geblaf en heen en weer verby ‘n bos gehardloop.

“Toe ek nader kom, het ek iets in ‘n sloot naby my gehoor, maar niks gesien nie. Ek het gekyk en gekyk, toe spring die luiperd skielik vanuit die sloot, amper bo-oor my, op pad om my vriend aan te val. Ek het ‘n klip gegryp en die dier geslaan en hom aan die nek probeer gryp.” Mkhonto het na sy wang en die binnekant van sy lip beduie en gewys waar die luiperd hom met sy voorpoot gekrap het toe hy hom aan die nek beetgepak het.

Mnr. Eliot Mkhonto se linkerhand is nog steeds baie geswel.
Mnr. Eliot Mkhonto se linkerhand is nog steeds baie geswel.

“Die honde het hom ook aangeval terwyl ek hom so aan die nek vasgehou het. Dis toe dat hy omdraai en my aan die arm gryp.”

Die luiperd se byt was só sterk, het Mkhonto gesê, dat hy ‘n kierie in die dier se bek moes druk om homself uit sy kake te bevry. “Ek het op die kierie getrap om sy bek oop te kry. Toe hy daar los, gryp hy my been.”

Die dier het Mkhonto se been egter vinnig gelos en hom ‘n wegkomkans gegee. “Ek het my tjommie dadelik gebel en gesê hy moet my kom help.”

Sy linkerarm.
Sy linkerarm.

Mkhonto moes etlike kilometer ver loop om by sy huis in Driekop, nét buite die historiese dorpie, te kom. Daar het ‘n man sy wonde ontsmet en hom kos gegee. “Ek het nog steeds geen krag gehad nie en moes na die hospitaal gebring word.”

Hy is rondom 05:00 die volgende oggend in Sabie Hospitaal opgeneem waar hy steke in sy linkarm en regterbeen ontvang het.

Die luiperd het hom ook aan die regterbeen gegryp.
Die luiperd het hom ook aan die regterbeen gegryp.

Sy linkerhand is steeds opgeswel en hy sê hy sukkel nog om te slaap

weens die pyn.

“Mense sê hulle het die luiperd ná die aanval gesien, maar hy is nog nie gevang nie,” het Mkhonto gesê. “Dit is nou vir ons ‘n groot probleem omdat baie mense se beeste nog op dié berg in Driekop wei.”

Mnr. Eliot Mkhonto.
Mnr. Eliot Mkhonto.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button