Local newsNewsNews

Koeksisterkompetisie gaan loop soos stroop by Innibos

Vier finaliste se koeksisters gaan elke dag van die Innibosfees by die kykNET-verhoog om 15:00 aan feesgangers uitgedeel word om te proe watter een nou die heel lekkerste is.

Die Huletts-koeksisterkompetisie is vol aan die gang en die vier finaliste is op Vrydag, 29 Mei tydens ’n glansryke geleentheid by Jacaranda FM se studio bekend gemaak. Die vier finaliste is
• Catharina Herbst, Pietermaritzburg
• Emily Jooste, Parys, Vrystaat
• Susanna van Heijst, Groblershoop
• Louisa Vlok, Bloemfontein

Hierdie vier finaliste gaan by Innibos meeding om die kroon van Huletts Koeksister Kampioen 2015 te dra. Die prysgeld van R100 000 gaan aan die gelukkige wenner op die Standard Bank-hoofverhoog oorhandig word op Saterdag, 4 Julie 2015.

Die reaksie op hierdie kompetisie was uitstekend en meer as 160 aansoeke is ontvang. Dit was regtig ’n gekopkrappery om die finaliste aan te wys.

Hierdie vier finaliste se koeksisters gaan elke dag van die Innibosfees by die kykNET-verhoog om 15:00 aan feesgangers uitgedeel word om te proe watter een nou die heel lekkerste is. Dan stem jy vir die koeksister wat jou tone laat omkrul van genot. Die een met die meeste stemme is die een wat met die prysgeld gaan wegstap.

Huletts gee ook in samewerking met Jacaranda FM 4 keer R5 000.00 weg. Luister net elke dag Maandag tot Vrydag na Frankie van 9:00 tot 12:00 en hou jou ore oop as Frankie die luisteraars versoek om in te skakel vir hierdie prysgeld. Om meer hiervan te lees, gaan gerus na www.hulettssugar.co.za.

Seline van der Wat, naaswenner van Masterchef 2014 was een van die beoordelaars van die koeksisters. Sy is ook hierdie jaar by die kykNET-koscrawl saam met Jak de Priester te sien. Sy was die spreker tydens die bekendstelling van die finaliste.

Hier is haar toespraak oor haar liefde vir suiker …

Toe ek die eerste keer die oproep van Daniel af gekry het, om my in die proses te betrek het ek die hele oproep net een liedjie in my kop gehad: Suikerbos ek wil jou hê. Hy’t vir my gevra of ek ooit oor suiker en koeksisters kan of wil praat. “Natuurlik,” het ek vir hom gesê, “ek is immers van suiker gemaak – natuurlik kan ek!”

Ons ken almal die ou liedjie oor die suikerBOS en ek sê nou vir jou, as ʼn suikerbossie bestaan het, so ek definitief daai bossie wou hê!

Suid- Afrikaaners is maar lief vir hul suiker – ons sit dit in ALLES, van Ouma se kerrie en Mrs Balls chutney tot ons mees bekende poedings soos melktert, malva poeding, vla-skywe en koeksisters.

Ek het in ʼn klein dorpie grootgeword en almal daar het altyd vir Mamma gesmeek om hulle R1.90 te gee om ʼn Dirkie-kondensmelk by die slaghuis te koop. Dié sweeties was mos in die vorm van ʼn tandepaste-houer – en ek het altyd gemaak asof ek my tande daarmee borsel. My ma was natuurlik nie baie beïndruk nie, maar ek het gedink ek’s skreeusnaaks!

Suiker was nog altyd vir my betowerend – tydens my MasterChef reeks, het ek ʼn bynaampie by die kykers en my mede-deelnemers gekry – hulle het my die “sugar whisperer” genoem. Want ek het elke kans wat ek gekry het, gebruik om met suiker te werk – in roomyse, koeke, pizzas, truffels en wildvreemde nageregte.

Suiker was nog altyd vir my soos magic – dit het my as kind gefassineer hoe die wit bestanddeel omgetower kon word in so veel verskillende vorme en geure.
Ek dink aan spookasem – wat soos wolke op jou tong verdwyn en die dik karamel in ʼn goeie kerkbazaar sjokoladekoek.

En dan die unieke geur van koeksister stroop – wat is ʼn koeksuster sonder daai stroop?!

Ek het al vandat ek 5 was (ja, voor ek kon lees) in die kombuis geëksperimenteer met gebak en poedings. Ek het toe al besef dat klein handjies perfek is vir koeksisters vleg! Ek wonder hoeveel duisende koeksusters is al deur klein handjies gevleg, terwyl hulle vir ouma of tannie bystaan terwyl hulle koeksisters bak vir die tuisnywerheid. My beloning was dat ek altyd verniet ʼn dosyn koeksisters gekry het in die einde. En toe ek en my sussies koshuis toe moes gaan, het my tannie elke vakansie vir ons koeksisters gemaak en saam terug gestuur koshuis toe – dit het ons baie populêr gemaak.

Tussen al die terte, koeke, skywe en koekies is die mees ekonomiese lekkerny wat ons in hierdie pragtige land maak, dalk net die koeksister. Nêrens anders in die wêreld maak hulle so ʼn gebak nie – wat amper soos ʼn doughnut in olie gebak is, maar dan in yskoue stroop beland, sodat die stroop in die krakerige gebak in trek.

ʼn Mens kan op enige plek in die wêreld, ʼn oud Suid-Afrikaner se oë toebind en ʼn koeksister voer – en jy sal dieselfde resultaat kry: ʼn groot glimlag, ʼn hmmmm en die kommentaar “it tastes like home”.

Soos enige iets wat so ʼn lang geskiedenis in ʼn land het, het elke tannie, ouma of familie hulle eie spesiale (en gewoonlik geheime) resep. Van hulle is streng tradisioneel en ander het kinkels! Maar hulle het almal ietsie in gemeen. Suiker. En HOPE daarvan. Mense reg oor die land, is verslaaf aan hierdie gevlegte happies. Maar dit word nie sommer net sjoef sjaf klaar gebak nie! Dit vat tyd en liefde om te maak, te vleg en te bak.

Ek het tydens ons beoordeling vir die Huletts Koeksister Kampioen weereens al die moeite waardeer. Ek self het 169 koeksisters geproe. En wat rêrig eienaardig is, is dat ek nog steeds kan sê: “ek is mal oor ʼn koeksister”. Jy kan my nes ʼn vis vang, met ʼn koeksister aan ʼn lyntjie.

Bloed is dikker as water, ja. Maar vir my is suiker dikker as bloed, want dit is immers suiker wat deur my are hardloop.

Baie geluk aan die 4 finaliste! Julle moet elkeen baie trots wees op wat julle bereik het – julle staan nou elkeen ʼn 25% kans om die prys van Huletts te wen. Ek wens julle alles van die beste vir die beoordeling by Innibos! Sien julle daar!

Nou ja – dis my toespraak. Short and sweet – nes ʼn koeksister.

Back to top button