Hard newsNewsNewsUpdate

Vrou sterf in ongeluk op pad huis toe van Innibos af

'n Kollega van Produkta het toe na bewering op die pad na Sabie gery en remmerke op die pad, sowat 30 kilometer buite die stad, opgemerk. Hy het uitgeklim en die egpaar se Nissan Qasquai onder teen die berg opgemerk

MBOMBELA – Huldeblyke stroom in vir me. Engela Barnard (29) wat Donderdagaand laat dood is toe haar en haar man, mnr. Francois Barnard, se voertuig op die pad na Sabie gerol het.

Die egpaar was by Innibos en op pad terug na dié dorp toe die ongeluk gebeur het.

Dit is nie duidelik presies hoe laat die ongeluk gebeur het nie. Een van me. Barnard se Facebook-vriende het Donderdagaand op haar profiel aangedui dat hulle by Innibos was. Volgens ‘n vriendin van die egpaar was hulle omstreeks 23:30 op pad terug huis toe in Sabie.

Me. Barnard was by Produkta Trucks werksaam en het glo elke oggend ‘n saamrygeleentheid saam met iemand na haar werkplek in Mbombela gekry. Toe dié Vrydagoggend by hulle huis in Sabie opdaag en niemand daar kry nie, is haar werkgewer by Nissan  in kennis gestel.

‘n Kollega van Produkta het toe na bewering op die pad na Sabie gery en remmerke op die pad, sowat 30 kilometer buite die stad, opgemerk. Hy het uitgeklim en die egpaar se Nissan Qasquai onder teen die berg opgemerk.

Nooddienste is ontbied. Me. Barnard is op die toneel dood verklaar en haar man is met ernstige beserings na ‘n hospitaal geneem.

Hulle het ‘n klein seuntjie wat glo by ‘n ouma op Sabie oornag het.

Dit is duidelik op me. Barnard se Facebook-blad dat sy ‘n gewilde en geliefde mens was. Crystal van Wyk het byvoorbeeld geskryf: “mag jy in vrede rus mooie mens. Sterkte aan die familie en Francois mag ons Hemelse vader julle toevou in sy genade in hierdie onwerklike en moeilike tyd.”

Alida Basson het geskryf: “Ek is so geskok! Woorde ontbreek my. Rus sag Engela en mag jou liefde en vriendelikheid voortleef in daai pragtige seuntjie van jou.”

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button