Hard newsNewsNewsUpdate

Tot 1 000 pasiënte wag op operasies weens tekort aan ortopeute

In Nelspruit is daar vyf ortopeutiese chirurge in die privaatpraktyk wat self baie hard werk om spesialisdienste aan die 15% van die provinsie se inwoners met mediese fondse te verskaf. Rob Ferreira sit met slegs een ortopeut wat 85% van die bevolking moet bystaan

NELSPRUIT – Daar is meer as 1 000 pasiënte op Rob Ferreira Hospitaal se waglys wat sogenaamde selektiewe chirurgie moet ondergaan. Hulle operasies word nie as lewensnoodsaaklik beskou nie en hulle moet maande wag voor hulle op die operasietafel beland.

Een so ‘n pasiënt is mnr. Morné Erasmus (25) oor wie Laevelder verlede week berig het. Hy het op 30 Januarie sy linker bo-arm in ‘n motorfietsongeluk gebreek en loop sedertdien met die fraktuur wat nie wil aangroei nie. Hy is ook verlam in sy onderarm en kan gevolglik nie werk nie.

Erasmus het uit desperaatheid sy lêer met onder andere X-strale geneem en by verskeie dokters in die private sektor om hulp gaan aanklop. Hulle almal is dit eens dat hy geopereer moet word en hy probeer nou inderhaas geld daarvoor insamel.

Laevelder het breedvoerige navrae oor sy geval na die departement van gesondheid gestuur. Mnr. Ronnie Masilela, woordvoerder van die departement, het aanvanklik bloot gesê dat hy nie Erasmus se geval in die media gaan bespreek nie omdat sy doktersbehandeling vertroulik is. Die koerant het aangedui dat sy antwoord nie aanvaarbaar is nie aangesien Erasmus dan toestemming aan die koerant verleen het om oor sy behandeling navraag te doen.

Masilela het vervolgens meer volledige terugvoer gegee. Dit skets ‘n donker prentjie vir die duisende mense wat van openbare gesondheidsorg in Mpumalanga afhanklik is.

Hy het eerstens aangedui dat dit blyk dat Erasmus sy hospitaallêer gesteel het en dat dit ‘n kriminele oortreding is. Hy het selfs so ver gegaan om te sê dat dit nie veel van Erasmus se “karakter as getuie” sê nie.

“Breuke van die humerus (boarm) kan in 80% van gevalle doeltreffend met gips behandel word. Chirurgie en interne fiksasie (spalking van die arm) is ‘n ‘lekker’ opsie as daar genoeg teatertyd en hulpbronne beskikbaar is,” lui Masilela se antwoord verder.

“In Mpumalanga het ons egter net genoeg teatertyd en hulpbronne om sowat 33 persent van frakture chirurgies te behandel.” Sy antwoord het verder gelui dat ‘n boarmfraktuur tussen vier en ses maande neem om met gips aan te groei. “Jy kan dus slegs na ses maande bepaal of die arm aangegroei het of nie.”

Hy het ook gesê dat daar dikwels verlamming voorkom na ‘n breuk in die boarm, maar dat 85 persent van hierdie gevalle slegs te wyte is aan ‘n kneusing van die senuwee en binne vyf tot ses maande vanself regkom.

Hy het verder aangedui dat daar ongeveer 100 traumapasiënte in ons area is wat ortopeutiese chirurgie nodig het. Die koerant het hom gevra presies hoeveel ortopeutiese chirurge in Mpumalanga se openbare sektor werksaam is en wat die departement doen om meer van hulle hierheen te lok. Hy het teen druktyd nie hierop geantwoord nie.

Mpumalanga se gesondheidsdepartement het onrealistiese verwagtinge
‘n Ingeligte bron het verdere lig op die opeenhoping van ortopeutiese gevalle by Rob Ferreira gewerp nadat hy van Erasmus se geval te hore gekom het. “Die fout is nie by Rob Ferreira alleen nie.

Die departement het onrealistiese verwagtinge ten opsigte van tersiêre gesondheidsdienste,” het die bron verduidelik. Punte wat uitgelig is, sluit in:

• Rob Ferreira kan slegs tussen 25 en 30 frakture per week chirurgies hanteer

• Daar is ‘n verdere 12 verwysende hospitale in die provinsie wat pasiënte met frakture na Rob Ferreira moet verwys
• Elk van hierdie hospitale sien gemiddeld een pasiënt per dag wat ortopeutiese chirurgie benodig. Dit beteken dat tussen 70 en 80 pasiënte per week chirurgie by Rob Ferreira moet kry.

• Daar is 3.6 miljoen inwoners in Mpumalanga en slegs 15% van ons het mediese fondse of genoeg kontant om by private hospitale behandel te word. Dus moet 85% van die provinsie se bevolking van Rob Ferreira gebruik maak. Daar is net twee tersiêre hospitale in die provinsie wat spesialisdienste aan inwoners kan verskaf: Rob Ferreira en Witbank Hospitaal.

• In Nelspruit is daar vyf ortopeutiese chirurge in die privaatpraktyk wat self baie hard werk om spesialisdienste aan die 15% van die provinsie se inwoners met mediese fondse te verskaf. Rob Ferreira sit met slegs een ortopeut wat 85% van die bevolking moet bystaan.

‘n Trustfonds is gestig om te help met Erasmus se mediese uitgawes. Die rekening word beheer deur Meintjies & Khoza Prokureurs en betalings kan gemaak word by Standard Bank, rekeningnr. 242-989-055, takkode 052-852, verwysing: E100/14.

Daar word ook op 14 Mei ‘n gholfdag by Sabie Country Club gehou om Erasmus se mediese uitgawes te help dek. Belangstellendes kan inskryf teen R4 000 vir ‘n vierbal en dit sluit verblyf by Sabie River Camp, ‘n ete, jou inskrywingsgeld en ‘n gholfkarretjie vir elke vierbal in. Items sal ook opgeveil word en lekker pryse is op die spel. Navrae: 076-674-5536 of epos: info@africaingwe.co.za

Back to top button