Hard newsNewsNewsUpdate

Rob Ferreira Hospitaal laat man in die steek

Hy het intussen die gebruik van sy onderarm verloor en het nie meer behoorlik gevoel daarin nie

NELSPRUIT – ‘n Jongman (25) se toekoms is onseker omdat hy al sedert 30 Januarie met ‘n gebreekte arm sit wat nie wil aangroei nie. Hy is een van duisende Laeveldse inwoners sonder ‘n mediese fonds wat duidelik deur die openbare gesondheidsektor in die steek gelaat word.

Mnr. Morné Erasmus sal geopereer moét word om die skade aan sy arm te herstel, maar die staat beskou hom nie as ‘n noodgeval nie en probeer die arm met gips reg dokter. Hy het nie eens meer gevoel in sy onderarm nie en private ortopeutiese chirurge vra hom duisende rande om te opereer. Dis geld wat hy nie het nie.

Erasmus het daardie dag op sy motorfiets in Witrivier gery toe hy vir ‘n aankomende voertuig moes uitswaai en geval het. Hy het ‘n oop wond aan sy arm en skraapplekke aan sy rug opgedoen.

Hy het eers gedink hy is nie so ernstig beseer nie en is sommer na ‘n huisdokter. Dié het egter dadelik besef dat sy
linkerbo-arm gebreek was en het hom na Rob Ferreira Hospitaal in Nelspruit verwys.

Die wond aan sy arm is met steke geheg en X-strale is van die arm geneem. Gips is aangesit en hy is aangesê om oor sowat agt weke na die hospitaal terug te keer.

Hy is op 19 Februarie terug soontoe sodat die steke uitgehaal kon word. Die gips is afgehaal en nuwe X-strale is geneem, wat gewys het dat die breuk nog glad nie aangegroei het nie.

Nuwe gips is opgesit en Erasmus het in sy hospitaalêer opgemerk dat daar geskryf is dat hy nie vir fisioterapie opgedaag het nie. “Ek is nooit aangesê om vir fisioterapie te gaan nie,” het hy beslis gesê.

Woensdag was hy terug by die hospitaal – byna drie maande na die ongeluk. Die gips is weer afgehaal en nuwe plate geneem, wat weer gewys het dat die breuk nog glad nie aangegroei het nie. “Die dokter het nog gesê die been lyk goed,” het Erasmus gesê.

Hy het intussen die gebruik van sy onderarm verloor en het nie meer behoorlik gevoel daarin nie. Wéér is gips aangesit en Erasmus is tóé eers aangesê om na ‘n arbeidsterapeut te gaan. “Hulle het verlede week die gips so styf aangesit dat my arm begin swel het.

“Ek het toe maar ‘n skêr gevat en die stuk onder oopgeknip sodat die swelling kon sak,” het hy vertel.

Die arbeidsterapeut na wie hy verwys is, het hom nie behandel nie en hom aangesê om oor twee weke terug te kom. Maandag is hy na ‘n ander private huisdokter op Witrivier wat gesê het dat sy vermoed dat sy senuwee beskadig is.
Dié aand het Erasmus ‘n hoë koors ontwikkel en begin braak.

Hy is Dinsdagoggend na ‘n suster by Lowveld Pharmacy omdat hy bang was dat hy dalk ‘n infeksie in die breuk opgedoen het. Die suster het navraag gedoen by Rob Ferreira en is meegedeel dat hulle bewus was van Erasmus se geval, maar dat hy nie as ‘n noodgeval geklassifiseer word nie.

“Hulle het aan haar gesê dat hulle ‘n agterstand van tot 300 ortopeutiese gevalle het waarop geopereer moet word. Ek is ‘in die sisteem’ en hulle sal wel by my uitkom,” het Erasmus moedeloos vertel.

Hy was nou al uit desperaatheid by verskeie private ortopeutiese chirurge. Een van hulle het ingestem om hom Dinsdag te opereer, teen enorme afslag.

Hy is egter nie bereid om hom in Rob Ferreira te opereer nie en die private hospitaal waar Erasmus toe gaan navraag doen het, soek duisende rande voordat hulle hom sal opneem.

Erasmus, wat voorheen in die toerisme-bedryf werksaam was, kan sedert die ongeluk nie werk nie omdat hy nie eens kan bestuur nie. “Ek het nog baie pyn en drink maar pynpille wanneer dit te erg raak. Alledaagse take soos tandeborsel en stort is ook baie moeilik.”

Laevelder het breedvoerige vrae oor Erasmus se geval na mnr. Ronnie Masilela, woordvoerder van die departement, gestuur. Sy terugvoer was basies niksseggend.

“Die besluit wat die dokter geneem het oor Erasmus se vorm van behandeling sal slegs bekend bly aan homself en die pasiënt. Dit is nie oop vir bespreking in die media nie.”

Masilela het verder bloot gesê dat dit nie waar is dat daar ‘n agterstand van tot 300 ortopeutiese gevalle by die hospitaal is nie.

• Selfs die Menseregtekommissie het verlede jaar bevind dat Mpumalanga se gesondheidsdepartement nié sy grondwetlike verpligting nakom om gesondheidsorg aan die provinsie se inwoners te verskaf nie. Dit volg nadat die DA ‘n klagte ingedien het. Verskeie berigte wat Laevelder gedoen het oor swak dienslewering by Rob Ferreira Hospitaal, het deel gevorm van die DA se klagte. Lees die storie hier

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button