Local newsNews

’n Vrou met ’n hart van goud

Die jaar staan einde se kant toe en die Kersseisoen is om die draai.

Anne-Mari Gavin verleen vir die afgelope 11 jaar hulp aan bejaardes deur ’n
Kerswenslys-projek. Dié inisiatief beoog om bejaardes wat nie in ouetehuise woonagtig is nie, maar wat in die omgewing bly en finansieel sukkel, te help.
Vanjaar wil Anne-Mari die bejaardes van Belfast ondersteun. “Ek het in 2001 met die wenslys begin. Voor dit was ek by verskeie ander organisasies soos die Abraham Kriel Kinderhuis in Naboomspruit betrokke. Ek het ook ’n groot hart vir diere.”
Sy is opsoek na bejaardes wat sukkel om met hulle staatspensioen van R1 260 per maand klaar te kom. Ouer mense moet met die paar randjies hulle water, ligte en erfbelasting betaal. “Bejaardes in ouetehuise word goed versorg, kry klere, word gevoed en gaan gereeld op uitstappies. Dit is baie makliker vir sakeondernemings, kerke en privaat-instansies om hulpbronne daar te gaan aflaai, maar daar is baie behoeftiges in ons onmiddellike omgewing wat ons nie raaksien nie. Ek weet van mense wat op plotte, plase, agterkamertjies, karavane en in ou karre woon waarvan ander nie eens bewus is nie.”
Sy rig ’n versoek aan die publiek om haar te skakel indien hulle van sulke mense bewus is. “Vir daardie mense beloof ek ‘n groot verrassing. Die enigste ouetehuis wat ek hierdie jaar op die wenslys vir bejaardes sit, is die Rusoord in Belfast. Hulle geniet nie al die voorregte wat Nelspruit se bejaardes in ouetehuise kry nie. Dit is ‘n arm
gemeenskap en Middelburg se mense help nie hierdie kant nie.”
“Ons moet begin omsien na ons medemens en hulp verleenwaar ons kan. Ek kry so koue gevoel in my hart as ek in ‘n restaurant sit en sien hoe mense hulle kors mors terwyl ek weet wat daar baie mense daar buite is wat met leë mae elke aand gaan slaap. Ek noem dit sommer net selfsug – solank dit met my goed gaan dan sal ek nooit die behoefte van ander ooit kan raaksien nie.”
Enige hulp en ondersteuing sal waardeer word sodat die nood van ander bietjie verlig kan word, of selfs om net ‘n klein bietjie blydskap te bring waar daar baie trane en bekommernisse is. Skakel Anne-Mari by 013-744-1298 as jy haar en die bejaardes kan help.

Back to top button