Jennifer gee kalmte in ‘n besige bedryf

Jennifer Henning is 'n oud-Vossie wat gebore is in Johannesburg en in graad 3 van Louis Trichardt na Tzaneen verhuis het. Sy werk tans as finansiële raadgewer.

In 2011 het Jennifer by Alan Forbes, ‘n plaaslike finansiële adviseur as sy assistent begin werk. Vyf jaar later in 2016 het sy haar regulatoriese eksamen geslaag en ook die volgende jaar haar sleutel-individu-eksamen afgehandel. Kort daarna het sy haar Class of Businesses-eksamens geslaag. Sy het haar kwalifikasie as welvaartsbestuurder deur Moonstone se besigheidskool in 2020 afgehandel en in 2021 ten volle as finansiële adviseur erken.

In die covid-19-pandemie het sy haar kantoor na die huis toe geskuif en hope mediesefondsaansoeke hanteer. “Dit was ‘n uitdaging, want ek moes vir die kleintjies ook klas gee en my werk doen,” verduidelik Jennifer.  Haar man, Werner, het in die grendeltyd siek geword met die covid-19-virus. “Ek moes hom in die een kant van die huis toe hou en versorg en was besig met die tweede fase van my welvaartsbestuurstudies ook nog!”

Sy het dié welvaartsbestuurkwalifikasie klaargemaak in ‘n jaar en ‘n half, waar dit gewoontlik drie of selfs vier jaar neem om te voltooi.  “Ek het voltyds gewerk, en gestudeer, die kinders gehelp met skoolwerk en na ‘n siek man gekyk,” vertel sy. “Dit was baie laat aande, maar as jy jou kop laat sak en die harde werk doen, kán dit gedoen word,” vertel Jennifer.  Haar rustige persoonlikheid in die ewig-besige lewensversekering, beleggings, mediese fonds, korttermynversekeringbedryf is haar sterkpunt.

Lees ook: Hannes wins Limpopo young farmer award

Sy behartig ook die opstel van testamente en bied dus die volle pakkie aan vir haar kliënte se finansiële welstand. Jennifer het twee dogters, Lily-Anne is 12 en die jongste is negejarige Lisa-Marie. “In my bedryf kan mens nie afsluit nie, as jy huis toe gaan het kliënte jou steeds nodig en vra hulle gereeld oor naweke advies.  “Ek is maar net ‘n rustige mens, ek dekompartementaliseer baie goed. Mens kan nie die spanning van die werk huis toe bring nie, dan loop jou man en kinders deur,” vertel sy.

Haar advies vir jong meisies wat pas skool verlaat is om onmiddellik te begin spaar vir hul doelwitte. “Jy moet so gou as moontlik begin spaar vir jou aftreetyd en ook geld wegsit in beleggings vir jou troudag en ander doelwitte en drome,” sê Jennifer. Verder sê sy: “As jy regtig iets wil doen, jy kán, as jy die harde werk insit en opofferings maak en die tyd insit, al moet jy naweke uitmis op braais, partytjies, uitmis op koffie, tee en skemerkelkies met jou vriendinne, dan kan jy kry wat jou toekom,” verduidelik Jennifer.

Vir Jennifer is harde werk ‘n groot deel van die lewe se suksesresep. “My ma sê altyd: “Werk hard, dan sal jy kry wat jy wil hê in die lewe,” vertel sy met ‘n graplag. Allan het haar geïnspireer om te studeer, en verder te studeer, en om die bedryf te geniet. “Kyk, dit is die tipe bedryf wat mens kan geniet as jy hou daarvan om mense te help en hulle by te staan met beplanning. Dis lekker om te hoor dat mens ‘n verskil kan maak. As iemand dankie sê vir goeie advies, veral in ‘n ingewikkelde versekeringsomgewing, kry ek baie bevrediging,” sê Jennifer.

Haar toekomsplanne is groot, naby en net hier in Tzaneen. Sy gaan die sleutelindividurol en Allan Forbes se bestaande kliënte by hom oorneem en dieselfde goeie diens en advies aan hulle lewer wanneer hy aftree.

Exit mobile version