Carleine is reg om met boksafrig die wêreld te verander

Carleine Rossouw (22) is 'n ambiseuse jong boksafrigter wat nou meer as 'n honderd kinders, vroue en jong meisies afrig by ‘n plaaslike boksakademie, wat sy saam met haar gesin bestuur. 

“Vroue kan alles doen wat ‘n man kan doen. Dís my werk om vir ‘n meisie te sê jy kan presies doen wat daardie seun kan doen, jy kan nét so hard slaan,”  vertel Carleine trots.  Boks is haar en haar gesin se hele lewe. Haar pa, Soutie, en haar boetie, Daniel, inspireer haar. “My pa is amazing. My boetie is my beste vriend in my lewe. Hy is die konstante in my lewe, as ek in ‘n moeilike plek was kon hy my help en as ek op ‘n lekker plek was kon ek dit met hom deel. As hy in daardie kryt inklim is hy so gedetermineerd. Jy sal hom nooit hoor kla nie.

My pa is dieselfde. Hy het al baie terugslae in die lewe gehad en nog nooit opgegee nie. Sy leuse is: ‘Nog net een ronde’, hy het dit in boks geleer. Enige ding wat jou onder kry, vat jy nog een ronde aan,” vertel Carleine. Haar ma, Vanessa Pienaar, is ook vir haar ‘n inspirasie. “Sy is ‘n sterk vrou en hardwerkend. Sy boer buite die dorp,” vertel Carleine met ‘n glimlag. Carleine is self nie ‘n bokser nie. Sy het ‘n passie vir die sport en fokus op die agtergrond, die fiksheid, die geestelike voorbereiding.

“In die boksklasse help ek vroue wat sukkel met gewigsverlies of met hulle selfbeeld, selfs na ‘n egskeiding om hulself en hulle krag weer te vind,” vertel sy. Sy geniet dit ook om met kinders te werk, veral dié wat op skool geboelie word of sukkel om in te pas. Sy werk tans met ‘n paar seuns wat deur boks en oefening leer hoe om die uitdagings van hiperaktiwiteit, outisme en sensoriese probleme te hanteer.  “Ek geniet dit wanneer daar ‘n deurbraak is deur boksoefeninge by dié kinders. Hulle is na ‘n paar maande beter aangepas by die skool en dit gee my soveel bevrediging,” vertel Carleine.

Lees ook: Boxing Babes

Carleine fokus met haar boksafrigting op kardio-, balans- en postuuroefeninge asook die bokser se hand-en-oog koördinasie en natuurlik geestelike deursettingsvermoë en vasberadenheid. “In die begin is dit seer. Dit is seer om ‘n hou te slaan, dit is soms seer om vorentoe te trap en jou rug raak seer van die oefeninge. Ons oefen elke spier in jou liggaam so dit is soms seer, maar die moeite werd,” sê Carleine. “As jy nie deel is van die Badgers is wat in toernooie in die kryt veg nie, oefen jy teen jouself en jy bepaal hoe hard jy oefen,” voeg sy by.

Haar grootste uitdagings wat sy oorkom het is self-liefde en om in haarself te glo en ook om vir haarself op te staan teen boelies. “Jy kan nie suksesvol wees in enigiets as jy nie glo in jouself nie, nie jouself liefhet nie. Jy moet kyk waar was jy, en kyk waar is jy nou en aanhou verbeter,” sê Carleine.  Carleine duld ook nie boelies nie en het op skool een wat haar op die skoolbus geboelie het, ‘n bloedneus toegedien.

“Ek is nie ‘n voorstander van geweld nie, maar as iemand aan jou vat, in jóú spasie is, in jou kosblik is, met jou waterbottel lol, mag jy jouself verdedig. En dit is ook wat ons vir kinders wat geboelie word leer. Om lief te wees vir hulleself, nes hulle is, en om hulself en hulle spasie te verdedig,” sluit sy af.

 

Exit mobile version