Lifestyle

Na hope medaljes rig Sanja nou af

Gimnastiek is in die 20-jarige Sanja Pretorius se bloed en sy het verlede maand na Tzaneen verhuis om haar eie Zanis Gimnastiek Akademie-tak hier te bedryf.

Sy is gebore in Pretoria, maar sy het op die plaas grootgeword in Modimolle en Polokwane toe getrek toe sy 5-jaar oud is. Haar liefde vir die sport is vroeg deur haar pa aangewakker. “My pa, Flip Pretorius, was ook ‘n gimnas in sy jonger dae en ek was nog klein toe hy vir my ‘n swaai gebou het. Ek het natuurlik onderstebo gehang en soos ‘n apie geswaai,” vertel sy. Sanja het haar eerste gimnastiekklas by Zanis Gimnastiek Akademie in Polokwane bygewoon toe sy agt jaar oud was.

“Van daar af het ek nooit weer terug gekyk nie, gimnastiek was nog altyd deel van my lewe,” verduidelik Sanja, wat meer as 90 medaljes in dié sport deur haar loopbaan tot dusver verower het. Haar eerste groot prestasie was toe sy as 12-jarige goud gewen by die Suid-Afrikaanse kampioenskappe as vlak twee gimnas. Sy het daarna ook ‘n paar silwer- en bronsmedaljes gewen in vlak vier en vlak vyf by die Suid-Afrikaanse kampioenskappe.

“Toe ek in my laaste jaar gimnastiek gedoen het, in my graad 11-jaar in 2019, was ek op vlak sewe en het eersteplek op die brug gekry by die nasionale kampioenskappe,” vertel sy met trots. Sy kyk op na haar gimnastiekafrigter, Tanya Bouwman en ook na Zani Prinsloo, die eienaar en stigter van Zanis Gimnastiek Akademie. “Ek stap al ‘n baie lang pad saam met tannie Zani, sy is soos my ma by die werk. Sy het my gehelp tot waar ek vandag is, nie net in gimnastiek nie, maar ook met die lewe,” verduidelik Sanja.

Lees ook: Beplanning gee Nadine se lewe balans

Een van die belangrikste dinge wat sy tot dusver geleer het is dat niks vanselfspekend is nie. “Die lewe draai so vinnig, dit verander elke dag en jy moet aanpasbaar wees op jou lewenspad,” vertel Sanja. Vir haar is dit ‘n uitdaging om by haar geliefde, vriende, familie en werk uit te kom. “Dit is ‘n groot aanpassing want elkeen van hierdie mense bly op ‘n ander dorp. Ek probeer naweke by my kêrel wees, maar ek en my ma is ook baie na aan mekaar,” verduidelik sy. Om vêr van haar ma, Sannie, te bly is ook vir Sanja ‘n uitdaging siende hulle hele lewe lank saamgebly het. “Dit is elke keer ‘n tranedal wanneer ons mekaar groet,” lag sy.

“Om selfstandig te wees is die groot ding wat ek by my ma geleer het en ook graag eendag vir my eie kinders sal wil leer,” vertel Sanja. “Ek het nooit gedink ek gaan met kinders werk op my ouderdom nie, of ooit nie, en toe ek klaar is met graad 12 toe kry ek die wonderlike geleentheid om af te rig by Zanis Gimnastiek Akademie in Polokwane, en nou geniet ek dit so baie. Ek gee alle eer aan ons Hemelse Vader vir die seëninge en talent,” vertel sy met passie.

Sy wil graag jong gimnaste inspireer. “Dissipline is ‘n belangrike ding en jy moet mooi na jouself kan kyk, trots wees op jouself en uit jou gemaksone uit klim om nog beter hoogtepunte te bereik,” sê Sanja. Haar toekomsplanne is hier in Tzaneen, waar sy eendag ‘n gesin wil begin en natuurlik, aanhou om gimnastiek af te rig by Zanis Gimnastiek Akademie. “Ek het nog altyd gesê ek sal in Tzaneen wil bly. Dit is so, so mooi dorp en nou is ek hier!” sluit sy af.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button