Babkie vat lewe se lief en leed met ‘n lag

In die harte van Tzaneen is sy net Babkie, maar eintlik is sy gebore Cecilia Dry. Babkie van der Sandt, ‘n somatoloog op die dorp, vertel haar grootste vreugde is om ma te wees vir haar vyf maande oue seuntjie, Zed.

“Ek woon steeds op Tzaneen waar ek gebore is. My seuntjie is ook hier gebore … ek is mal oor ons plattelandse dorpie,” vertel Babkie. Sy het haar bynaam by een van haar sussies gekry as baba. “My middel-sussie kon nie “baba” sê toe ek ‘n baba was nie toe sê sy ek is Babkie, vandaar my naam. Sy het verlede jaar haar man, Zaander, aan kanker verloor slegs ‘n paar maande voordat hul seuntjie gebore is.

“Dit was ‘n groot uitdaging om ‘n balans te vind tussen om te rou oor die afsterwe van my man, teenoor om sterk te wees tydens my swangerskap. Elke persoon het vir my gesê hoe skadelik dit vir my baba kan wees om deur ’n traumatiese tyd te gaan,” sê sy. Vandag wens sy sy het vroeër besef om nie die lewe te ernstig op te neem nie. “’n Mens moet die lewe leef en geniet sonder om dit te oordink.”

Sy sê as somatoloog groei haar liefde vir haar kliënte en werk elke dag. “Ek het die perfekte balans tussen werk en my persoonlike tyd ontdek nadat my seuntjie gebore is. Ek werk nie meer voldag nie, en skielik is ek ekstra opgewonde en passievol om óf werk toe te gaan, óf huis toe te gaan. Ek het ’n kopskuif gemaak ’n rukkie terug en besef dat geen inkomste die kwaliteittyd saam geliefdes kan regverdig nie.”

Lees ook: Beplanning gee Nadine se lewe balans

Tog het sy groot drome vir haar sakeonderneming. “Die skoonheidsindustrie is van so ‘n aard dat daar altyd ruimte vir uitbreiding is en dit maak my baie opgewonde vir die toekoms. Babkie vertel dat sy haar aanvanklik nie aan die erns van die covid-19-pandemie gesteur het nie. “Ek was nog altyd ’n persoon wat ’n ernstige situasie kon afwater. Ek was mal oor die tyd by die huis en besef nou eers hoe gelukkig ek was om daardie kwaliteittyd saam my geliefde te kon deurbring. My besigheid was beïnvloed deur die pandemie, maar ek is baie dankbaar dat ek weer terug op die been kon kom met die ondersteuning van al my kliënte.

Volgens haar sal sy altyd haar ma dankbaar bly dat sy haar lawwe persoonlikheid die spasie gegee het om haarself te wees in ’n huis met baie voorbeeldige sussies en boetie. “Ek sal my seuntjie eendag wil leer dat ‘n mens moet ander mense aanvaar nes hul is en die spasie gee om hulself te wees tot die beste van hul vermoë. Een van my kliënte het eenkeer vir my gesê: ‘Wees net altyd ’n lekker mens!’, en hoekom wil mens dan nie wees nie?” gesels sy.

Maar uiteindelik is dit haar soeke na haarself wat haar lewe rig. “Doen moeite om te ontdek wie en wat jy is, en lewe dan as die beste weergawe van jouself.”

Exit mobile version