Lifestyle

Beplanning gee Nadine se lewe balans

Vir Nadine du Plessis is die kosbare lesse oor hoe om met geld te werk reeds in haar kinderskoene deur haar ouers vasgemessel.

Nadine is nie net ‘n direkteur van die familieversekeringsonderneming van Smit & Kie nie, maar is ook by verskeie ander besighede betrokke wat sy help bestuur. Sy vertel sy is ‘n Tzaneener in murg en been. Op laerskool en by Die Hoërskool Ben Vorster het sy akademies uitgeblink en jy het haar na skool op die sportveld of in die swembad gekry.

“My ouers, Riekie en Piet, het my van baie vroeg af selfstandig en onafhanklik groot gemaak. Ek het ‘n “salaris” gekry en moes alles, behalwe kos en verblyf, daaruit betaal. Toiletware, klere, skryfbehoeftes en enigiets wat ek dalk wou hê. As my geld op was dan was dit op. Die sakgeld was ook nie so baie nie, so ek moes vroeg leer hoe om te begroot en te beplan. Ek mag ook nie geleen het nie. My ma was so bietjie minder streng en het my so nou en dan bietjie bederf!” gesels Nadine.

Dit was dus nie ‘n verrassing toe sy na skool Puk toe is om haar as geoktrooieerde rekenmeester te bekwaam nie. Sy het haar internskap by KPMG in Nelspruit gaan doen waar sy ook haar man ontmoet het. “Tydens my internskap het ek besef oudit is nie vir my nie en het ‘n groter uitdaging gesoek. Toe ek klaar is, het ons terug Tzaneen toe getrek, waar ek by Smit & Kie begin werk het. Met versekering is daar altyd ‘n nuwe uitdaging en konstante veranderinge wat plaasvind.”

Die lewe het egter kleintyd sy slegte kant vir haar gewys. “Ek was geboelie op skool deur mense wat baie na aan my was. Ek moes leer om die mense te vergewe vir wat hul aan my gedoen het asook myself omdat ek nie vir myself opgestaan het nie. Ek moes leer om aan te beweeg sodat dit nie ‘n effek op my toekoms het nie. Ek moes leer om nie bang te wees om weer mense te vertrou nie en nie bang te wees om te gaan vir wat ek wil hê nie.”

Nadine sê haar ouers se waardestelsel om na aan die Here te leef en om altyd oop en eerlike kaarte te speel, het haar as mens gegrond. “Niks was verbode onderwerpe in ons huis nie. As ek nie gelukkig was met ‘n besluit nie was die tafel altyd oop vir bespreking, die besluit het nie noodwendig verander nie maar ek het geweet ek het die vrymoedigheid om te praat daaroor. Dit is iets wat ek graag by my kinders ook wil toepas.”

Lees ook: The tricky financial implications when selling and buying

Goeie beplanning, ‘n wonderlike man en familie wat help is die geheim om haar besige lewe as beroepsvrou en ma van twee besige seuntjies, vyf en twee jaar oud, te balanseer. “Weeksdae begin my dae gewoonlik al vier uur in die oggend wat my ‘n ekstra twee ure gee om administrasie gedoen te kry terwyl almal slaap. Ek probeer ook om nie na halfvyf smiddae te werk nie sodat ons as familie tyd saam kan spandeer.”

Tydens die pandemie het haar uitgebreide familie wat saam op ‘n hoewe net buite die dorp woon, saam gestaan. Kinders is met tuisonderrig bygestaan en hulle kon met hul werk voortgaan. “Covid het ons weereens geleer dat mense is aanpasbaar en dat daar altyd ‘n oplossing is.” Uiteindelik is dit haar ouers se begronding wen waardes wat by haar bly en suksesvol maak. “Bly positief, vertrou op die Here, maak nie saak hoe groot die probleem is nie, daar is altyd ‘n uitweg of oplossing,” sluit Nadine af.

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button