Gubitz se film debuteer op Silwerskermfees

Marinus Gubitz se film, Vlugtig, is vrygestel by die tiende Silwerskermfees in Kampsbaai in Kaapstad.

Gubitz is ‘n Tzaneener en oudleerder van Stanford Lake College. Herald het ‘n onderhoud met Gubitz voor die film se amptelike debuut gevoer. “Ek sien baie uit daarna om die see te sien en ek is op my senuwees, dit behoort interessant te wees om die gehoor se reaksie op die film te sien,” vertel Gubitz kort nadat hy in die Kaap aangeland het vir die fees.

“Vlugtig is ‘n film gebaseer op en oor die filmbedryf, so dit gaan baie interessant wees om te sien hoe die rolspelers in die bedryf daarop reageer by die Silwerskermfees,” verduidelik hy. Die vollengtefilm is gebaseer op ‘n kortfilm met dieselfde titel wat Gubitz in 2017 as konsep ingeskryf het vir die Silwerskermfees.

“Na ons goeie terugvoer gekry het oor die kortfilm het ons besluit om die film te maak en Ernst van Wyk het die vollengtefilm begin skryf. Daar was baie uitdagings en jaar na jaar het verbygegaan sonder om die film te maak,” vertel Gubitz. “Ek hoor toe dat Danie Bester by Film Factory van die kortfilm gehou het. Ek het met hom kontak gemaak en toe is die bal uiteindelik aan die rol om Vlugtig te maak,” vertel hy.

Also read: Steyn a young upcoming artist

“In begin 2020 was ons reg om Vlugtig te skiet, maar toe moes ons ons planne hersien na die uitbraak en inperkings van die Covid-19 pandemie,” vertel Gubitz. Die film is toe uiteindelik in Augustus 2020 in Magoebaskloof, geskiet gevolg deur ‘n week se verfilming op stel in Johannesburg. Die rolverdeling sluit in Ernst van Wyk, Jane de Wet en Arno Greeff.

Luidens Gubitz is die Silwerskermfees vir hom ‘n geleentheid om die gehoor se reaksies tot die film eerstehands te sien en ook ‘n kans om te netwerk en ‘n voet in die deur te kry vir toekomstige projekte. Vlugtig het nominasies ontvang vir die KykNet Silwerskermtoekennings in die volgende kategorieë: Beste redigering, beste kostuumontwerp en beste klankontwerp.

Gubitz het na hy sy skoolloopbaan deur Unisa kreatiewe skryfwerk studeer en het sy honneursgraad in teorie van literatuur voltooi. Wat die toekoms aanbetref is Gubitz geheimsinnig, maar nie laks nie. Hy is tans besig om ‘n draaiboek te skryf vir ‘n volgende film, ‘n donker komedie.

“Dit is ‘n proses saam met die produksiemaatskappy, sodra ‘n mens die groenlig kry vir die draaiboek en die ateljee gelukkig is met jou visie, dan gaan ons voort,” verduidelik Gubitz. Hy het ook ‘n boek geskryf wat in die volgende paar maande vrygestel sal word. Vlugtig is tans te siene op DStv BoxOffice en behoort oor ‘n paar weke ook op Showmax beskikbaar te wees.

Exit mobile version