MotoringSport

Sport duik weer in hek met derde Covid-golf

Dit is amper onmoontlik om ‘n geldwaarde aan die gekanselleerde sportgeleenthede te heg omdat dit soveel meer as net die geleentheid behels.

So sê Jen Noné van Copper Moon Events, organiseerder van die Wolkberg & Woodbush Trail Run wat op 7 en 8 Augustus aangebied sou word, maar wat vir die tweede jaar uitgestel moes word weens vlak 4-rampregulasies wat heringestel is nadat die derde vlaag van die Covid-19-pandemie die land in sy greep het.

In ‘n persoonlike boodskap aan diegene wat ingeskryf het sê sy dat in die lig daarvan dat deelnemers en ondersteuners hul reisreëlings en akkommodasie moet afhandel en daar soveel onsekerheid heers oor wat in die volgende weke gaan gebeur, was hul genoodsaak om die gewilde byeenkoms te kanselleer.

Sy sê dit is veral deelnemers vanuit Gauteng, wat ongeveer die helfte van die inskrywings beslaan, wat bekommerd was of die wedloop voortgaan of nie.

Onder die regulasies kan dié deelnemers nie die provinsie verlaat nie en dit is onseker of die beperking vroegtydig opgehef gaan word.

“Dis nie net ter wille van die Gautengers nie, maar ons moet ook take soos medici en spyseniering afhandel, daarom die besluit om dit te kanselleer.”

Noné sê sy voel veral jammer vir die atlete wat baie hard geoefen het vir die wedloop.

Also read : Zandspruit Estate race ran in cool weather

“Alhoewel ons reeds aansienlike kostes aangegaan het, wil ons almal verseker dat alle inskrywings, selfs vanaf 2020, volledig oorgedra sal word tot volgende jaar wat vir 6 en 7 Augustus beoog word. Ons doen ‘n beroep op diegene wat akkommodasie bespreek het om reëlings met die hotelle en gastehuise te tref.”

Noné, wat ook die organiseerder is van die Magoeba Trek, ‘n drie-dag bergfietsgeleentheid en wat deur die plaaslike maatskappy, Insect Science, geborg word, sê sy glo dat dié geleentheid sal kan voortgaan omdat dit eers aan die einde van Augustus plaasvind.

Sy hoop dat die derde golf van die pandemie teen daardie tyd onder beheer sal wees.

Volgens haar word die geleenthede gereël vir die stil tye om toerisme en akkommodasie in die omgewing ‘n hupstoot te gee.

Related Articles

Back to top button