Laerskool Mariepskop in Hoedspruit pak onderrig by die horings

Die uitdaging van leer tydens die inperkingstyd kry Riepies nie onder nie.

Laerskool Mariepskop in Hoedspruit het hul ook tot Google Classroom gewend om leerders aan die werk te hou.

Riepies se Chantelle Redelinghuys vertel dat personeel weeklikse voorbereiding aan hul leerders op dié aanlynplatform oplaai.

“Daarin is die week se werk mooi uiteengesit met ouditiewe en visuele verduidelikings, werkkaarte en hulpbronne. Al die leerders in die skool is op die platform geregistreer en is baie gebruikersvriendelik,” sê Redelinghuys.

 

In sommige vakke word die opdragte by die huise gedoen en dan voltooid terug gelaai. “Kontrole kan ook gedoen word deur te sien hoeveel leerders daagliks die lesse aflaai. Leerders wat struikelblokke beleef word gehelp om die werk af te laai.”

Volgens Redelinghuys doen Mariepskop-ouers baie moeite want leer kan nie plaasvind sonder leiding by ‘n jong leerder nie. “Onderwysers ontvang baie foto’s en videos van die werk wat leerders tuis doen.”

Daarna word positiewe terugvoer word gegee deur motiverende boodskappe aan leerders en ouers te stuur. Leerders en ouers kommunikeer selfs met onderwysers op die Google Classroom platform indien ‘n konsep nie verstaan word nie.

“Alhoewel die werk dan as afgehandelde werk geag word weens die verkorte skoolkwartaal, sal die personeel seker maak dat daar wel vaslegging was van konsepte. Leerders wat agter geraak het, sal op datum gebring word,” sê sy.

“Almal word direk geraak en ons en ons ouers probeer die beste van die saak maak.”

 

Redelinguys het ouers aangemoedig om steeds skoolgelde te betaal weens onderhoudskostes, salarisse en ander uitgawes wat steeds deur die skool betaal moet word.
Exit mobile version