EntertainmentLifestyle

Was skottelgoed met ‘n kroon en dra fluweel

Baie vrouens is bang om ‘anders’ te wees en voel hulle moet inpas. “Maar basta daarmee,” sê Willie Strause.

“As as jy elke dag fluweel wil aantrek met ‘n kroon op jou kop wil skottelgoed was, dan doen jy dit. Wees jouself en leef jouself uit. Ons het meer individue nodig wat ‘n verskil in die gewone mense se lewens maak. En wees anders, vrou, moenie bang wees nie.”

So voel Willie Strause waar hy met Letaba Herald gesels vanuit sy sinkhuis in Cullinan (waar daar gereeld markte en langtafel etes gehou word) oor Vrouwees.

Willie, ‘n kreatiewe siel en boorling van die Noordkaap wat op Suid-Afrikaanse verhoë reg oor die land in die kollig as kabaret kunstenaar opgetree het, het sy fokus die afgelope ruk geskuif na kos. Willie is mede-aanbieder van die TV program ‘Kos is oppie Tafel’ op ASTV, en lewer weekliks ‘n kospraatjie op Pretoria FM.

Sy eerste kookboek word binnekort vrygestel. Terloops, laat val hy, dat Tzaneen se vrouens (en mans) op die uitkyk moet wees, want hy wil binnekort hier in ons geweste kom kuier.

En die kollig staan reg vir Willie die ‘celebrity’ want hy wil baie graag ‘n boekbekendstelling en kos demonstrasie hier in Tzaneen kom doen. Maar terug by Vrouedag.

Vir hom is dit nog ‘n heerlike vakansiedag. Maar, hy vertel trots dat hy bevoorreg is om wonderlike vrouens in sy lewe te hê met wie hy elke dag kan feesvier en nie net op een spesifieke dag nie. “Hulle (die vrouens) is my steunpilare en vorm ‘n deel van my lewe wat ek nie sonder wil wees nie en ek het ‘n wonderlike ma gehad wat my ondersteun het in wat ek doen.” Plattelandse vroue is vir Willie uniek want, soos hy dit stel, is die plattelandse vrou nie bang nie. ‘Hulle hekel, bak en kook en reël ‘n funksie sonder om te dink daaroor. Hulle is gewoond daaraan dat hulle nie naby al die groot winkels is nie en kan wondere verrig met hulle kreatiwiteit en hulle maak die lekkerste kos,’ sê Willie. As hy ‘n lang tafel kon dek net vir vrouens, sou hy‘n rooitapyt uitrol vir hulle? Die kreatiewe-altyd-anders antwoord wat mens van Willie verwag, of dalk soms nie, kom vinnig.

“Ek sal eerder roosblare op ‘n hessiantapyt strooi om dit uniek te maak. Rooi tapyt is outyds. Ek sal iets nuut en interessant skep dat hulle spesiaal kan voel.”

Hy sal hulle verwelkom met ‘n spesiale drankie dat almal kan ontspan. Sy liefde vir kos is duidelik, want vir sy gaste sal die spyskaart soos volg daarna uitsien. Voorgereg: ‘n Lekker waatlemoensop. Hoofgereg: sampioene in ‘n fillopakkie, outydse hoenderpastei en my pampoenpoffers met ‘n lemoen karamel sous. Nagereg sal malvapoeding met ‘n rooibos-sjerriesous wees. Met die liplekker-water-tand spyskaart, is sy boodskap aan vrouens op Vrouedag dat niks hulle moet onderkry nie. “Skep en wees kreatief in jou omgewing en wees jy die verskil wat almal wil wees, Lewe dankbaar in jou omgewing.”

In sy ma, ouma en van sy beste vriendinne is daar eienskappe wat hom altyd sal bybly. “Hulle is (en was) nederige sterk vrouens wat nie bang was om te werk nie. Hulle was streng maar het jou ook getroos en raad gegee as dit nodig was. Hulle hande het vir niks verkeerd gestaan nie en daar het ek geleer om te skep en verskillende dinge te doen om te oorleef,” vertel hy trots en met nostalgie.

En is dit tyd vir Suid-Afrika dat ‘n vrou as president ingehuldig moet word en die land regeer? “Ja,” kom die antwoord beslis. “Ek dink ‘n vroue president sal wonderlik wees. Een wat nie nonsens vat nie en vir haar sal ek heel eerste stem en ‘n koeksister bak.”

Met sy kruisie in die een hand as stem vir ‘n vroue president en ‘n vars tuisgebakte koeksister in die ander, is sy boodskap vir Tzaneen se vrouens dan heel eenvoudig en op die man (vrou) af: “Skep en wees kreatief in jou omgewing en wees jy die verskil wat almal wil wees.”

Related Articles

Back to top button