EntertainmentLifestyle

Vroue is wonderlik geskape

"A Strong Woman is one who feels deeply and loves fiercely. Her tears flow just as abundantly as her laughter… A Strong Woman Is both soft and powerful She is both practical and spiritual… A Strong Woman In her essence Is a gift to the world."

Dit is een van Ilse de Villiers se gunsteling aanhalings, en dié dinamiese vrou en kunstenaar het min of geen bekendstelling nodig in Tzaneen nie.

Ilse is die afgelope 18 jaar ‘n voltydse kunstenaar wat spesialiseer in Suid-Afrikaanse wildsoorte.

Sy skilder ook van tyd tot tyd voëls, troeteldiere en doen selfs nou en dan portrette of ander onderwerpe op spesiale versoek. Al haar kunswerke is oorspronklik (“Originals”) en geen afdrukke word gemaak nie.

Sy het ‘n groot passie en liefde vir diere.

Tuis het die gesin ‘n African Grey papagaai wat, so dikwels as wat sy die kans kry, op Ilse se skouer sit terwyl sy skilder. Verder het hulle ook twee rifruê wat haar ook baie na aan die hart lê.

Haar man Abraham, deel haar liefde vir diere en is ook baie lief vir die natuur.

Hy is daarby ‘n entoesiastiese natuur en wildfotograaf en sy gebruik graag van sy mooi foto’s as verwysingsmateriaal vir haar skilderye.

Hy ondersteun haar heelhartig in wat sy doen sy beskryf hulle as “‘n goeie span”.

Sy het hier op eie bodem al by Aardklop, InniBos, The Aim show, Bundu Expo, the Getaway Show en Huntex uitgestal.

“Saam met jou kuns gaan mens mos maar as kunstenaar deur verskillende ‘groeifases’. In die dae toe ek die kunstefeeste gedoen het, het ek veral die mense vreeslik geniet. Daar is mos ‘n wonderlike gees by hierdie feeste en die positiewe terugvoer en geselsies met almal laat mens se hart warm klop,” vertel sy.

Deesdae doen Ilse net die Huntex skou wat jaarliks in April by Gallagher Estate in Midrand gehou word.

Sy het ook reeds die geleentheid gehad om etlike kere in Amerika uit te stal- ‘n ondervinding wat enersyds haar belewingswêreld baie verbreed het, maar haar terselfdertyd ook nederig hou.

“Ek het nou al 7 keer die geleentheid gehad om by die South Eastern Wildlife Expo, in Charleston, South Carolina, VSA, uit te stal. Die voorreg om jou werk te kan vergelyk met meer as 50 wildlewe kunstenaars van oraloor is ‘n wonderlike ondervinding. As jy jouself oopstel kan jy so baie leer, nie

Alleen vanuit ‘n kunsperspektief nie, maar ook as mens. Die hoeveelheid kunstalent daar buite is ongelooflik en mens besef telkens jy is net ‘n baie klein vissie in ‘n baie groot see.”

Ilse verkies om met akrielverf te werk.

“Toe ek destyds begin skilder het, was dit toevallig met akriel & met verloop van jare het ek die medium so goed leer ken dat ek ‘tuis’ voel daarmee. Ek ken my kleure en ek ken my palet. Ek het ‘n paar jaar gelede bietjie met olie gespeel en 4 skilderye voltooi…maar ek het na my akrielverwe ‘verlang’. Die een is nie beter as die ander nie, dis absoluut ‘n persoonlike keuse”

Oor haar skilderye voeg Ilse die volgende by: “Ek het ‘n bietjie van ‘n perfeksionistiese streep en poog daarom om my onderwerpe so realisties moontlik uit te beeld. Dit lei wel tot tye van frustrasie , maar as ‘n skildery klaar is en jou kleure & komposisie werk & daardie bok of leeu of olifant lyk of dit lewe, is dit die wonderlikste gevoel ooit! ”

Ilse leef haar uit in haar kunswerke.

“Ek het nie kuns gekies as ‘n loopbaan nie, dit het my gekies.

Dis nie almal wat die kans kry om daagliks hul passie uit te leef nie – ek besef ek is baie bevoorreg en geseën.”

Oor Vrouedag op 9 Augustus en vrouwees oor die algemeen het Ilse ‘n ‘ongelooflike agting vir vroue.’

‘Om vandag volkome vrou te wees is “‘n tall order.”Ons is en moet so baie in een pakkie wees – sterk en oopkop om die wêreld daar buite te kan hanteer; speels, interessant, liefdevol en ‘sexy’ vir die man in ons lewens; daarby moet ons sag, moederlik,streng, in beheer wees en ‘n onuitputbare bron van troos, wysheid, raad en kennis hê, om moederskap te kan oorleef. En dan het ons nog nie regtig uitgekom by die eise wat ‘n beroepslewe meebring nie…’A tall order indeed.’

“Ek glo met my hele hart die Vader het in Sy almag presies geweet wat van ons vroue verwag gaan word en het ons met al hierdie kwaliteite geseën. Sommige kom maklik en ander verg bietjie moeite en harder werk…maar ons kan. Ons vrouens is wonderbaarlik geskape en is met ons Hemelse Vader se hulp tot alles in staat. Glo in wie jy is, leef jou talente uit en onthou dat met jou hand in die Vader s’n, kan jy enige hindernis oorkom.’

En dit is haar boodskap vir die vroue van Tzaneen en Suid-Afrika op Vrouedag wat Dinsdag 9 Augustus gevier word.

Related Articles

Back to top button