Student, soldaat, sakeman…sou pa Piet ons onthou ?

Die mens is mos maar 'n simpel ding. So, met Vadersdag wat om die draai vir ons lê en loer, probeer ek hierdie week uitwerk hoe oud my oorlede pa nou sou gewees het.

Later vanjaar, op 5 November om presies te wees, sou my pa, Petrus Johannes Jacobus Hancke, 71 jaar oud gewees het.

Skielik tref dit my.

Pa Piet is in 1989 op die jong ouderdom van 45 oorlede en ek word oor ‘n maand van nou af 40.

Teen 2022 behoort ek ouer te wees as wat my pa ooit geword het. Hoe vreemd voel dit nie. Hoe onregverdig en absoluut is hierdie inhaal van my oorlede pa se lewensjare nie.

My pa het baie dinge gesien kom en gaan in sy leeftyd. As jong student het hy (en later sy kleinboet Faan) die Abey Baily beurs by Kovsies gewen, wat beteken het hy was die eerste lid van ons familie wat Europa op ‘n vakansiereis gaan toer het. Hy het selfs die Bokke op Twickenham gaan kyk tydens hierdie reis.

My oupa (aan pa Piet se kant) se kuiertjie by Hitler en sy vriende in Berlyn, in die middel 1940s tel nie, aangesien dit nie ‘n gewone toer was nie.

Mens bring immers nie swaar artillerie en ander oorlogsmasjiene saam op jou standaard Europese vakansie nie.

Later het pa Piet die verandering in die land begin voel dink ek.

Ons het grootgeword in ‘n polities meer liberale huis, as meeste van ons vriende, met beide pa Piet en ma Elma wat mense-mense was. Om grootskaals te veralgemeen was nie een van hulle se manier nie.

Student, soldaat, sakeman.

Pa Piet het na sy tyd by Kovsies sy diensplig gaan doen, reg in die tyd toe Suid-Afrika se moeilikheid in Angola begin lelik raak het.

Wat hy alles daar gesien en ervaar het, sal ek seker nooit weet nie.

Het hy ‘n ander man terug gekom as wat hy was toe hy in Angola aangekom het? Dit sal ek seker ook nooit weet nie.

Vandag woon ek in ‘n ander land as die een waarin pa Piet sy laaste asem uitgeblaas het.

By tye sonder krag en selfs persoonlik kragloos, staan ek hierdie gestoei na gelykheid en gade slaan.

En ek kan nie help om te wonder wat pa Piet sou gedink het nie.

‘n Gebrek aan dienslewering en reuse ongelykhede as ons so na hierdie gaping tussen ryk en arm kyk.

En ek wonder, sou pa Piet sy gesin of sy land vandag herken het.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version